GRAAFF-REINET NUUS - Dienslewering is ‘n regverdige verwagting, maar vir die klein gemeenskap van Riemvasmaak in Graaff-Reinet is dit reeds vir 15 jaar ‘n stryd om net basiese dienste en infrastruktuur in plek te kry.
Riemvasmakers kla dat Dr Beyers Naude-munisipaliteit (DBNLM) se raadslede en amptenare termyn na termyn hul skouers optrek en vingerwys na prosedure.
Die gemeenskap het uit moedeloosheid die munisipale kantore op Vrydag, 9 Desember besoek met die hoop op antwoorde asook die name van ampsdraers wat tot verantwoording geroep kan word.
Onder leiding van Action Save DBNLM saamroeper, Sias Smith, het gemeenskaplede die vorige dag, Donderdag, 8 Desember samesprekings gevoer met die munisipale stadsbeplanner, Ndumiso Camngca en die bestuurder van infrastruktuur, Bennie Arends.
Die groep is ingelig dat daar reeds ‘n komitee gestig is wat Riemvasmaak se belange sal bestuur. Die gemeenskap dra egter geen kennis van die komitee, die lede, of die doel daarvan nie. Hulle voer aan dat hulle glad nie betrek is om enige iets te bespreek of probleme uit te wys nie.
Die gemeenskap is Donderdag ingelig dat twee projekte op die been gebring word waarmee die munisipaliteit beoog om Riemvasmaak te ontwikkel.
Daaronder is die uitbreiding van die bestaande munisipale RDP-projekte wat huise met water, sanitasie en elektrisiteit beloof, maar ook ‘n tweede projek wat erwe met basiese dienste en geriewe sal verskaf. Mense moet dan hul eie wonings bou.
Die detail van hierdie projekte is nie duidelik nie en die gemeenskap eis die name van die komiteelede sodat hulle deurlopend verantwoording kan doen.
Smith beklemtoon dat Riemvasmaak reeds 15 jaar gelede ontstaan het na die opspraakwekkende verslaggewing van Freek Robinson op die joernaalprogram 50/50 omtrent die haglike omstandighede van mense wat rondom die destydse vullisgate gewoon het. Die area is toe reeds bewillig vir hervestiging. Sedertdien het nog nie veel van die beplande beloftes gekom nie. Smith sê as gemeenskapsaktivis neem hy die probleme en omstandighede wat die inwoners van Riemvasmaak daagliks trotseer ter harte en bied hy sy en Action Save DBNLM se volle steun in die verband.
Na afloop van Vrydag se gesprek het Camngca beloof om kontak te maak met die raadslid vir Riemvasmaak en hom te maan om in kontak met die gemeenskap te tree en die komitee aan hulle bekend te maak.
Tot dan trek die gemeenskap hulle rieme styf in die hoop dat hul noodkrete sal lei tot aksie eerder as leë beloftes.
Foto's: Pieter Pienaar
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'