Update
KAROO NUUS - Na die brand wat verlede week die NG kerk in Burgersdorp beskadig het, is talle berigte ontvang van inwoners wat op die toneel was en hulp verleen het.
Boere het vanuit die distrik kom help om die vuur te blus met brandspuite en brandenjins.
Burgersdorp het nie 'n brandweer nie en die brandweer is vanaf Aliwal Noord, 60 km ver, ingeroep.
Georg Putter, hoofouderling, voorsitter van die kerkraad en woordvoerder van die gemeente, deel mee: "Ons het probeer om die orrel en die kansel van die 174-jarige gemeente te red. Die kenmerkende koepel het ingeval. Roet, as en stukke van die dak lê oor die kerkbanke en liturgiese ruimte versprei."
Die dorpsinwoners het rondom 12:00 die eerste rokie uit die koepel sien trek en die vlamme is eers teen 17:00 geblus. Ds. Kobus Kloppers, predikant van die gemeente, was met 'n kort wegbreek by sy ouers in Port-Elizabeth, maar het dadelik teruggekeer. Dienste sal voorlopig in die kerksaal aangebied word.
Die ondersoek na die oorsaak van die brand is nog nie afgehandel nie, hoewel die assessors reeds daar was.
Daar word steeds vermoed dat die brand deur 'n kortsluiting veroorsaak is, hoewel die vermoede op die stadium onbevestig is.
"Redelike waterskade is aan die orrel aangerig, maar dit is genadiglik herstelbaar," berig Putter en deel ook mee dat 'n wêreldbekende orrelbouer reeds 24 Augustus begin het om die orrel op te breek, sodat skade herstel kan word en die orrel herbou kan word.
Die gemeente het 'n noodfonds gestig om fondse te in vir die herstel van die gebou en die orrel.
Die besonderhede is:
Absa Bank
Takkode 632005
Rekeningnommer: 1800580001
NG Kerk Burgersdorp
Verwysing : Ramp-Kerk.
Indien lesers spesifiek wil bydra tot herstelwerk aan die orrel maak is die verwysing "Ramp-Orrel".
Só lyk dit binne die kerk.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'