GRAAFF-REINET NUUS - Die gewilde restaurant en kuierplek in Graaff-Reinet, Arabella Chillout Lounge & Bistro, is in die oggendure van 13 Februarie deur 'n brand verwoes. Die eienaars René en Lee Posthumus vertel hoe hul droom om 'n restaurant te besit, in 2020 posgevat het en in 'n oogwink deur 'n vlammehel vernietig is. "Ons het in Maart 2020 na Graaff-Reinet getrek, 'n week voor die landswye inperking aangekondig is - daar is gesê dat dit drie weke sou duur. Na 'n maand het ons besef dat ons 'n tydelike bron van inkomste sal moet genereer en begin toe pannekoek bak. Graaff-Reinetters het ons geweldig ondersteun. Ons het later ook burgers, calamari en vis verkoop."
Uiteindelik, met die hulp van 'n kosbare vriend kon ons in ons eie huis intrek. "Vriende en familie het ook ingespring toe ons die kans kry om 'n Bistro te begin, ons het alles self gebou, geverf en herstel. Arabella beteken, oorgee in gebed, 'n naam van groot drome, maar ook van harde werk en opofferings. "Om kostes te bespaar het ons na 'n jaar sak en pak by Arabella ingetrek. Op 13 Februarie, omstreeks 02:00 het ons wakker geword en besef dat Arabella se dak aan die brand is. Ons vermoed dit is as gevolg van 'n kortsluiting na beurtkrag.
Ek het wakker geskrik van die geluid van asbesteëls wat van die dak af skiet. Dit was moeilik om asem te kry.
Omdat die gebou meestal van hout was, het die vuur vinnig versprei en alles verswelg. "René moes terughardloop om Layla, ons hond, uit die badkamer te red waar sy agter die toilet weggekruip het, ons kon net ons twee honde uit die vlammehel red. "Terwyl ons magteloos in die straat toegekyk het hoe ons hele lewe afbrand, het iemand vir my 'n trui gegee om aan te trek terwyl ek aan ons hondjies vasgeklou het. "Die gemeenskap van Graaff-Reinet het ons ongelooflik ondersteun tydens hierdie moeilike tyd. Ons het nooit honger gely nie en het altyd veilig gevoel. Ons is geseënd met alles wat ons nodig gehad het. Ons is dankbaar om deel te wees van 'n gemeenskap wat gee sonder om iets terug te verwag, wat liefhet sonder oordeel, en wat ondersteun sonder aarseling.
Hier het baie vriende eens bymekaar gekom, nou is net die murasie oor
"Op hierdie stadium weet ons nog nie wat die toekoms vir ons inhou nie, maar ons is dankbaar dat ons veilig en gesond is en weet dat God in beheer is van ons toekoms. Vir nou gaan ons probeer werk kry en glo ons dat die son weer sal skyn. Ons sal weer opstaan. Vir nou rus ons in die wete dat alles sal regkom."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’