GRAAFF-REINET NUUS - Ouers, leerders en personeel van Hoër Volkskool was die week in rou gedompel na die dood van Karin van Wyk, 'n geliefde onderwyser van die skool.
Van Wyk is Saterdag op die ouderdom van 47 jaar oorlede na sy 'n rukkie siek was.
"Dit het ons Hemelse Vader behaag om vir Karin van Wyk, onderwyseres by Hoër Volkskool, in die fleur van haar lewe uit ons midde weg te neem. Karin was een van daardie vroue wat in Spreuke besing word as die deugsame vrou wie se waarde hoër is as dié van edelstene," het Sulize van Wyk, bemarker van Hoër Volkskool gesê.
Volgens Van Wyk was Karin 'n sagte, vriendelike en hulpvaardige mens met 'n passie vir onderwys en kultuur en was sy baie nou betrokke by die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV).
"Karin het eerder gegee as om te neem en het nooit iets leliks oor 'n medemens te sê gehad nie. Vir bykans drie jaar was sy deel van Hoër Volkskool se personeel waar sy 'n waardevolle bydrae tot die skool gelewer het. Sy was voorwaar 'n dame in elke sin van die woord en 'n voorbeeld vir baie.
"Karin sal ook onthou word vir haar sagte plekkie vir diere en sy het haar oor menige ontferm. Haar plek tussen ons is leeg en haar familie, vriende, kollegas en leerders gaan haar terdeë mis."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'