GRAAFF-REINET NUUS - 'n Onderwyseres wat vir amper 12 jaar by Hoër Volkskool voor die klas gestaan het, het onlangs afgetree.
Magda van Heerden was sedert 2008 verbonde aan dié skool, waartydens sy ook 'n trotse inwonende personeellid van die skool se koshuis, Huis Cronjé, was.
Dié geliefde juffrou was hoofsaaklik verantwoordelik vir die onderrig van Afrikaans Huistaal vir die skool se Graad 8 tot 10 leerders, en het sy ook vir 'n paar jaar Kuns en Kultuur vir die Graad 8's en 9's onderrig.
Sy was deur die jare nou betrokke by dié skool se leerders en het sy haar veral uitgeleef in die skool se buitemuurse bedrywighede.
Sy het, onder andere, vir 'n kort periode saam met Beyers Cronjé .22-skiet afgerig - sy spog self met Springbokkleure wat sy in .22-skiet tussen 1975 en 1979 verwerf het.
Sy het hoogspring op die atletiekveld afgerig sowel as skaak op die kultuurfront en was sy verantwoordelik vir die oprigting van die buitemuurse skaakbord wat in die skool se vierkant pryk.
Sy het Redenaars afgerig - elke jaar het die skool se redenaars deurgedring tot die ATKV se semi-finale rondes onder haar vlerk.
Sy was ook in beheer van die skool se Vasvra. In 2017 het die vasvraspan die ATKV/Die Burger Vlymskerp-vasvrakompetisie vir hoërskole in die Oos-Kaap gewen.
Sy het ook die gereelde interne debatskompetisies in die skool gereël en het sy jaarliks 'n debatspan na die Woordfees in Stellenbosch geneem. Een jaar se span het deurgedring tot die finale ronde en vier ander jare se spanne tot semi-finale rondes.
Sy is dan ook die stigter van die skool se ATKV-jeugtak: Volksmond, wat baie aktief Afrikaans bevorder in Hoër Volkskool.
Dié leerkrag sal nog lank onthou word vir haar toegewydheid teenoor die leerders en die skool.
Tydens 'n onlangse saalbyeenkoms het die personeel en leerders op 'n gepaste wyse van haar afskeid geneem en wens hul vir haar net die beste toe vir die toekoms.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'