HOFMEYR NUUS - "Sommige dae is dit nog koud en sommige dae reën dit, maar groot was my verrassing toe ek 'n geelslang in ons plaashuis kry," vertel Murray Lord, sakeman van Hofmeyr.
"Dit is net weereens 'n bewys dat ons nooit versigtig genoeg kan wees nie. Sorg dat slange nie onderdeur outydse houtdeure kan kom nie deur gebruik te maak van rubber-deurstroke."
Lord sê hulle het ook besluit om boererate te volg en malvas en wilde knoffel teen hul huis te plant.
Vanuit Molteno, wat gewoonlik in wintertye ver onder vriespunt is, het daar Sondagmiddag 'n benoude oproep deurgekom, nadat 'n pofadder in 'n woonbuurt opgemerk is.
Inwoners het tred gehou met die slang se bewegings en hulp is ingeroep om dit te verwyder en terug in die natuur te plaas.
Om slange uit die erf te hou is dit belangrik om te onthou dat enige iets wat muise lok, vermy moet word.
Muise lok slange en waar muise kan inkom, sal slange kan inkom.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'