REDAKTEURSKOLOM DEUR MARIETTE BURGER - Ek kom Vrydagaand net na donker by die huis aan toe, net soos ek en die kinders uit die kar uit klim, die krag skielik afgaan.
In 'n oogwink is dit donker om ons. Van ons woning se inrit af kan ons sien dat die hele dorp van Graaff-Reinet terselftertyd in die donker gehul is.
'n Groot geskarrel vir kerse en flitse het gevolg, maar dit was eers na die kinders oor hul histerie (veroorsaak deur die donker) gekom het, dat ek besef het dat ons dit wel gaan oorleef.
Omsingel deur 'n verskeidenheid van ligbronne, sit ons toe en wag dat die duisternis end kry. Dit is doodstil om ons.
En dit is in die stil oomblike soos dié wat mens besef hoe 'verslaaf' ons geword het aan ons moderne lewes.
Die TV of radio is aan van die oggend tot die aand, ons jaag van punt A na punt B in verkeer.
Ons probeer die kos klaar maak so gou as moontlik en party dae het ons net krag vir brood of gemorskors.
En dan skielik kom daar 'n kragonderbreking en ons lewe kom tot 'n stilstand. Skielik is dit stil.
Vir dae aan een smag ons na 'n bietjie stilte, maar die oomblik wat die stilte aan die deur klop raak ons benoud en verlang ons terug na ons 'verslawing' van geraas en gejaag.
Kyk bietjie na jouself, sit bietjie die TV af, jou selfoon op silent en gaan sit rustig op die bank (sonder 'n boek of 'n tydskrif).
Hoe lank vat dit voor die 'verslawing' aan jou binneste begin knubbel en jy iets wil kry om jou hande besig te hou? Hoe lank vat dit voor jy ongemaklik begin voel met jou eie geselskap? Dan vra ek met trane in my blou oë: "Hoekom is ons altyd so moeg?"
Dit is omdat ons nie meer tyd maak vir onsself nie. Ons doen nie meer die moeite om na onsself te luister nie. Ons is verslaaf aan mense en dinge.
Vat elke dag 10 minute uit jou dag, dalk vroeg in die oggend, of vanaand voor jy gaan slaap en 'wees' net. Haal lekker asem, ontspan en maak vriende met jouself. Wie weet, dalk verbaas jy jouself oor wat jy daar kry!
So nou en dan doen 'n kragonderbreking mens goed.
(Die krag was darem vinnig weer aan - 'n trok het in die verbygaan 'n elektriese transformator in Kerkstraat getref wat weer spoedig deur tegnici herstel is.)
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'