REDAKTEURSKOLOM DEUR MARIETTE BURGER - Dit is nie onverwags dat daar dié week besonder groot belangstelling in Mandeladag is nie - ons vier altemits die 100ste herdenking van Nelson Mandela se geboortedag op 18 Julie 1918.
Nelson Mandela het hom vir 67 jaar gewy aan sosiale geregtigheid - dus, Woensdag, in die gees van Mandela-dag - is Suid-Afrikaners aangemoedig om 67 minute van hul tyd op te offer en iets te doen tot voordeel van ander.
Oral in Graaff-Reinet is gesprekke gevoer oor wat mense gaan doen om vir dié klein tydjie die lewe vir iemand anders makliker te maak.
Sosiale netwerke het gegons van video's en inskrywings van goeie dade regoor die land.
Baie planne is gemaak en goeie dade wat regtig die hart raak, is gedoen.
Maar, in die gees van Madiba, moet ons eintlik elke dag en minuut van die jaar goed wees vir mekaar.
Gaan kuier by 'n eensame bejaarde in 'n ouetehuis of by die huis en neem 'n tydskrif of twee saam. Huis van de Graaff het hoeka onlangs in dié verband 'n uitnodiging aan die publiek uitgereik om hul inwoners wie se familie ver bly te gaan besoek.
Jou tyd is vir 'n alleenmens kosbaarder as al die geld in die wêreld.
Neem iemand wat nie 'n motor het nie om inkopies te doen en maak 'n groot verskil in daardie persoon se lewe.
Die kinderhuis in die dorp het altyd die hulp van vrywilligers nodig om die lewe vir die kinders makliker te maak.
Vroue (en knaphandige mans!) kan deur die jaar kombersies vir bejaardes en armes brei of hekel. Die manne (en tawwe vroue met groen vingers!) kan in bejaardes se tuine gaan skoffel en die gras af en toe sny.
Sorteer jou huis en klerekas gereeld uit en gee dit wat jy nie meer gebruik nie vir dié mense wat wel kan.
Maak 'n lekker pot sop en gaan laai dit by haweloses af. 'n Warm maag dra by tot 'n warm hart.
'n Oproep na 'n familielid wat ver is, sal ook die hart vir langer as 67 minute verbly.
Moet egter nie vergeet om goed vir jouself en die mense naby jou te wees nie, want goedhartigheid begin by die huis.
Wees goed vir mekaar - die lewe is kort.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'