GRAAFF-REINET NUUS — Die motorfietse se enjins het behoorlik gebrul deur Graaff-Reinet die pas afgelope Saterdagoggend tydens die Wanted Motorfietsklub se jaarlikse Toilet Run.
Lede en ondersteuners van dié klub het laatoggend by 'n vulstasie in Kerkstraat bymekaar gekom, vanwaar hul gery het na Huis van de Graaff - 'n plaaslike tehuis vir bejaardes.
Met hul aankoms by die tehuis het hul 'n skenking van toiletware aan die bestuur en inwoners oorhandig.
Die dorp se motorfietsers het gewys hulle gee om, so ook lede van ander klubs wat ter ondersteuning van dié inisiatief van oral in die omgewing gekom het om dié dag ten bate van die oues van dae te geniet.
Na afloop van die oorhandiging en rit deur die dorp het die motorfietsers by Pioneers gesellig saam verkeer.
Die ouetehuis sê dankie vir die ondersteuning - dit is vir hulle kosbaar en wys hoeveel die gemeenskap omgee vir die bejaardes van die dorp.
Die bestuur van die Wanted Motorfietsklub bedank graag ieder en elk wat bygedra het tot die dag deur middel van skenkings en hul deelname, so ook vir Almaré Fourie en Roelien van de Putte vir hul goedgesindheid.
Lede van Graaff-Reinet se Wanted Motorfietsklub tydens verlede Saterdag se Toilet Run.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'