REDAKTEURSKOLOM DEUR MARIëTTE BURGER - Met die pas afgelope Mandeladag-vieringe het tientalle van die dorp se inwoners, waaronder munisipale amptenare, raadslede en skoliere, ingespring om ontspanningsareas, leë ruimtes en erwe op die dorp op te ruim en skoon te maak.
Almal wat aan dié skoonmaak-aksie deelgeneem het, het dit gedoen om 'n goeie en netjiese beeld van die dorp na buite te projekteer en sodoende die dorp se waardigheid 'n hupstoot te gee.
Die munisipaliteit word weekliks oorval met klagtes van onwettige rommelstorting en vullis wat die wêreld vol lê.
Dit is nie net iets wat inwoners pla nie, maar dit pla ook toeriste.
Nêrens raak mens meer bewus hiervan as by die koerant nie. Die klagtes wat die munisipaliteit bereik, bereik ons altans ook.
Alhoewel daar telkemale deur die munisipaliteit, en gereeld deur inwoners self, skoonmaakpogings aangewend word, klaar die probleem net nie op nie.
Dat sommige inwoners steeds voortgaan om rommel herwaarts en derwaarts te strooi gaan my verstand te bowe. Dit is tog immers tot die voordeel van alle Graaff-Reinetters as oop ruimtes en erwe netjies en skoon gehou word sodat ons dorp se natuurlike skoonheid na vore kan kom.
'n Rukkie gelede is 'n veldtog in Oudtshoorn begin wat my aandag getrek het, die Ek is Oudtshoorn-inisiatief.
Die beweegrede agter Ek is Oudtshoorn is dat 'n dorp se sukses nie net van die owerhede afhang nie, maar ook van die ingesteldheid en betrokkenheid van elke inwoner.
Die projek het dit uitsluitlik ten doel om die dorp se beeld en ekonomie te verbeter.
Ek is Oudtshoorn dra die boodskap oor dat elke inwoner, ongeag sy posisie of kwalifikasie, kan bydra om die dorp suksesvol te bemark en groei te stimuleer.
"Sodra elkeen van ons besef ons verteenwoordig die dorp, sal ons ook besef dat die boodskap wat die dorp uitdra van ons afhang.
Elkeen van ons het die mag om 'n verskil te maak," het Jaco Vorster, een van die Oudtshoorn-sakemanne wat die projek dryf, gesê.
Die idee agter die projek, asook die naam, Ek is Oudtshoorn, spreek van trots. Trots in Oudtshoorn as tuisdorp en van die inwoners self as die bewoners daarvan.
Hoe wonderlik sal dit nie wees as elke inwoner van Graaff-Reinet van dieselfde trots kan getuig nie?
En om dit uit te leef is so eenvoudig soos om 'n papier, blikkie of plastieksak op te tel as jy verby dit loop en dit êrens in 'n drom te gooi.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'