GRAAFF-REINET NUUS - Inwoners van Edenhof-dienssentrum is bederf met 'n uitstappie om na die aalwyne, wat reeds bloedrooi in blom staan, te gaan kyk.
Volgens Martie Bekker, bestuurder by Edenhof-dienssentrum het Chantelle Marais, van Karoo-gastehuis die tehuis gekontak en wou graag die inwoners bederf met ‘n uitstappie.
“Granaat, ‘n instansie wat toerisme bevorder, en ook bekend is as Vriende van die Camdeboo Nasionale Park, was ook betrokke en het finansieel bygedra om hierdie geleentheid te laat realiseer. Ons kon 20 senior burgers bederf. Teen 10:00 die oggend was almal in die bus en die eerste stop was by Elsa Featherstone-hulle se plaas, Allemanskraal, so 54 km van Graaff-Reinet. Die lelike grondpad was vir almal ‘n nuwe avontuur.”
Volgens Bekker was die aalwyne ongelooflik mooi.
"Elsa het ons daarna na haar plaashuis genooi waar sy vir almal heerlike geurige botterskorsiesop voorberei het. Daarmee saam het sy roosterkoeke met kerriemaalvleis bedien. Dit was vir almal so ‘n groot bederf, en die Karoo-gastehuis se Chantelle Marais het ons ook bederf met heerlike soetgoedjies.”
Vandaar is die seniors met die bus na Kendrew waar hulle meer kon hoor van die geskiedenis van die klein gemeenskappie.
Ons inwoners was teen 15:30 weer tuis, uitgeput, maar opgewonde oor die plate aalwyne wat hul kon beleef. Hul het die eetgoedjies in die bus net so geniet. Dit was ook vir my ‘n groot eer om die rit mee te maak. Alle dank gaan aan Chantelle Marais van Karoo-gastehuis en Granaat. Edenhof-dienssentrum is dankbaar vir hierdie uitreik na ons inwoners.”
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'