KAROO NUUS - 'n Sindikaat, wat met dwelmhandel tussen provinsies verbind word, is Dinsdagoggend 'n groot slag toegedien toe daar op 270 000 Mandrax-tablette beslag gelê is.
Volgens 'n verklaring deur die nasionale polisiewoordvoerder, brig. Vish Naidoo, is die dwelmvonds by 'n weegbrug op die N1 buite Beaufort-Wes gemaak.
Volgens Naidoo was die deurbraak die gevolg van 'n gesamentlike operasie deur die Wes-Kaapse misdaadintelligensiediens, die Valke, die K9-honde-eenheid en die dwelmeenheid.
Volgens Naidoo is die sindikaat betrokke by die vervaardiging en massaverspreiding van Mandrax aan dwelmhandelaars in die Wes-Kaap.
Misdaadintelligensie het volgens hom onverpoosd gewerk om die bron van die dwelms vas te stel en in die proses bewus geword van 'n besending Mandrax wat vanaf Gauteng na die Kaap vervoer sou word.
Die voertuig is geïdentifiseer en dit is by 'n weegbrug buite Beaufort-Wes voorgekeer en deursoek. 'n Totaal van 270 000 Mandrax-tablette is gevind en met die vrystelling van die verklaring Dinsdagmiddag het Naidoo gesê die ondersoek is steeds aan die gang. Die voertuig is op daardie stadium steeds deursoek. Een persoon is in hegtenis geneem, maar Naidoo sê dat die Valke die ondersoek verder neem en dat nog arrestasies dalk mag volg.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'