CRADOCK NUUS - Duisende ontevrede inwoners van Cradock het laasweek Woensdagoggend in die dorp betoog om hul argwaan oor die werkswyse van die Inxuba Yethemba-munisipaliteit te wys.
Besighede op Cradock kon sluit vir die tydperk van die optog, ten einde enige moontlike geweld vry te spring.
Twee weke gelede het 500 mense oor dieselfde griewe betoog, maar Woensdagoggend het mense hulle misnoë nog duideliker gemaak en sowat 3 000 betogers het na die stadsaal opgeruk.
'n Brief met griewe is aan die burgemeester, Noncedo Zonke, oorhandig. Inwoners maak beswaar teen die aanstelling van Mkhululi Mbebe as waarnemende munisipale bestuurder. Die beswaar is gegrond op die feit dat Mbebe tans 'n beskuldigde in 'n veediefstalsaak is.
Betogers is ook ontevrede oor twee ander werknemers van die munisipaliteit wat krimineel aangekla is. 'n Klag van verkragting is teen die een werknemer aanhangig gemaak, terwyl 'n sekerheidsbeampte skuldig bevind is aan gewapende roof en tans uit is op parool.
Die brief maak ook melding van 'n bedrag van R7,3 miljoen wat glo aan die raad geskenk is om terugbetalings te bewerkstellig vir verliese wat gedurende die Covid-19-pandemie gely is, wat na bewering deur die raad aangewend gaan word om munisipale raadsale op Cradock en Middelburg te verbeter.
Woensdag se optog het sonder enige voorvalle van geweld verloop.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'