Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO - Die Graaff-Reinet en Aberdeen-polisie het 'n relatiewe stil week beleef ten opsigte van arrestasies gemaak vanaf Vrydag, 5 Junie, tot Donderdag, 11 Junie.
Drankmisbruik het vir die meeste arrestasies gesorg, met veertien mense wat in die selle moes gaan 'uitdroog' na hulle die wet op drankmisbruik oortree het.
Geen moord-arrestasies is gemaak nie, maar ten opsigte van geweldsmisdrywe in Graaff-Reinet is een verdagte vir aanranding ernstig in hegtenis geneem en drie vir aanranding gewoon.
Op aanklag van roof en verkragting is een verdagte vir elk van dié misdrywe toegesluit.
Aberdeen het geen arrestasies vir geweldsmisdrywe gesien nie, maar een persoon is wel in hegtenis geneem omrede hy 'n beskermingsbevel geminag het. So is 'n verdagte wat 'n interdik in Graaff-Reinet oortree het, ook in die hande van die gereg geplaas.
Oneerlikheidsmisdrywe was ook in die minderheid en goeie polisiëring het in Aberdeen een verdagte vir veediefstal en een vir huisbraak agter tralies besorg.
In Graaff-Reinet is vier inbrekers vasgetrek. Twee word verdink van huisbraak in die residensiële areas, waar die ander twee sal moet pleit op aanklag van huisbraak by besighede.
Diefstal het met sewe arrestasies in Graaff-Reinet die polisie redelik besig gehou. Ander oneerlikheidsmisdrywe, soos bedrog, winkeldiefstal en diefstal uit voertuie het vir een arrestasie elk gesorg.
In Aberdeen en Graaff-Reinet is slegs een persoon vir 'n dwelmverwante misdryf toegesluit.
Kyk 'n video hieronder.
In die Graaff-Reinet hof is booswigte as volg gevonnis:
- Aanranding ernstig (een persoon - R2 000 boete of twee maande gevangenisstraf),
- huisbraak en diefstal (een persoon - agt maande gevangenisstraf),
- oortreding van 'n inderdik (een persoon - R2 000 boete of agt maande gevangenissstraf),
- roof (een persoon - drie jaar gevangenisstraf),
- strafbare manslag (een persoon - vyf jaar gevangenisstraf) en
- besit van mandrax (een persoon - R2 000 boete of 12 maande gevangenisstraf).
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'