WILLOWMORE NUUS - Daar is glo steeds geen vordering in die ondersoek na die moord op die 8-jarige Nelson Blou van Willowmore nie.
Die seuntjie se ouer broer het hom op 1 Desember verlede jaar in hulle huis met verskeie steekwonde aan sy liggaam gevind.
Op daardie stadium is dit bevestig dat Nelson en sy ouer broer ten tyde van die voorval alleen by die huis was. Sy ouer broer het egter ongedeerd daarvan afgekom omdat hy glo tydens die aanval agter die huis met die hond gespeel het en eers later op die toneel afgekom het.
Die moord het Willowmore hard geslaan. Volgens Nelson se ma, Siphokazi Blou, weet hulle nog glad nie wat gebeur het of wie die skuldige is nie.
Die onbeantwoorde vrae maak dit vir haar en haar familie nog moeiliker om sy moord te verwerk.
"Ons weet nog niks en dít is so seer. Sy boeta voel so alleen. Hy kyk net TV en praat nie sommer nie," sê sy hartseer. "Ons vat dit maar een dag op 'n slag en wag vir die uitslag."
Die polisie se provinsiale woordvoerder, adjudant-offisier Majola Nkohli, het kort na die voorval in Desember gesê leidrade word opgevolg.
Graaff-Reinet Advertiser het reeds twee versoeke vir 'n vorderingsverslag gestuur, maar niks ontvang nie.
Raadslid Ewald Loock het kort na die onverstaanbare moord gesê die grudaad laat vele vrae ontstaan.
"Kan dit wees dat daar 'n geestelike losbandigheid heers en dat drank en dwelms die gemeenskap soos 'n kanker deurtrek het, so erg dat selfs die kerke en SAPD magteloos is om iets daaraan te doen? In plaas daarvan om almal wat voorkom die skuld te gee vir hierdie onsinnige moord, moet elke ouer, kind, onderwyser, kerklidmaat, polisielid, staatsamptenaar, politieke leier, en selfs die stoepsitters, hulself die vraag afvra: 'Wil ek deel wees van die probleem of die oplossing?' Slegs na só 'n evaluering sal dit moontlik wees om te bepaal of daar 'n wil in Willowmore is om wat tans in ons gemeenskap gebeur aan te spreek."
Siphokazi Blou is gebroke en sukkel om haar seuntjie se moord te verwerk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’