GRAAFF-REINETNUUS - Na twee lewensnoodsaaklike ligte by die helikopter-landingsdek langs die Graaff-Reinet-lykshuis in die vroeë oggendure van 4 Februarie gesteel is, en nog 'n dief vroeg op 5 Februarie sy buit laat val het toe hy op heterdaad betrap is, is al die oorblywende, duur ligte verwyder tot veiligheid opgeskerp word.
Die hoof van forensiese patologie asook lykshuisbestuurder, Jacques Wagner, het die dief probeer aankeer, maar hy het oor 'n muur geklouter en gevlug.
Na die eerste diefstal van die twee hoofligte wat die heli-dek in die nag moet verlig in 'n noodgeval, kan die heli-dek nie nou na 17:00 in die aand gebruik word om pasiënte per helikopter na 'n hospitaal te neem vir spesialisbehandeling nie. Die helikopter moet kan terugkom en sal nie in die donker kan land nie.
Wagner het die oorblywende ligte afgehaal om te verhoed dat booswigte alles wegdra. Die ligte is deur 'n weldoener geskenk omdat die departement van gesondheid en die munisipaliteit glo nie daarvoor begroot het nie.
Die afgelope Maandag het LP Samantha Graham-Maré, kiesafdelingshoof van die Dr Beyers Naude munisipale area, ook 'n besoek aan die heli-dek gebring om die skade te bekyk. Sy het onderneem om die saak met onderskeie rolspelers te bespreek. Sy sal ook die DA se Oos-Kaapse skaduminister van gesondheid, Jane Cowley, vra om die saak in die parlement te opper. Sy is vergesel deur raadslid Ricardo Smith en adjudant-offisier Fietsie Fourie. Fourie het gesê die polisie volg leidrade op.
Hy het gevra dat mense met inligting hom kontak by 049 807 6600.
Voorbeelde van die ligte wat gesteel is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'