KAROO NUUS - 'n Oudleerling van Hoërskool Hofmeyr, Lionel van Port Elizabeth, is 'n man met 'n sagte hart en oop hand vir diere. Gebore in PE, het sy ouers hom vir sy hoërskooljare na Hofmeyr gestuur, waar hy ‘n koshuisinwoner was en net skoolvakansies huis toe is.
“Dit is in Hofmeyr waar ek my liefde vir diere ontdek het,” vertel Lionel.
Lionel woon in Young Park in PE, en is leier-brandweerman in Suideinde. Hy ry elke oggend werk toe met sy sak Hill’s Pet Nutrition langs hom op die sitplek.
“Lionel was ‘n avontuurlustige seun, maar het ‘n baie sagte hart vir bejaardes en diere,” deel Susan Vermaak, 'n oudonderwyseres van Hoërskool Hofmeyr mee.
“Hy kom kuier gereeld in Hofmeyr, by almal wat hy ken, en is so lief om ‘n ietsie van Hofmeyr af weer saam te neem,” vertel Poppie Coetzee, by wie Lionel graag vetplantjies kry. Sy tuin in Young Park is ‘n sprekende Hofmeyr-tuintjie, met al die Hofmeyr-plantjies wat daar blom. ‘n Herinnering aan elkeen van sy gereelde kuiertjies op die dorp.
Lionel gee daagliks aan ten minste ses honde kos. Dit is egter nie noodwendig altyd dieselfde honde is nie. Hy ry verskillende roetes werk toe, en ook by die brandweerstasie is daar honde wat kom kos vra.
Hy voer ook daagliks verskeie katte, minstens twaalf per dag.
“Ek gee hulle polonie, en soms KFC, as ek dit die dag by die werk ook eet, en ook katkos. Ek koop graag die beste kat- en hondekos, want dan weet ek hulle kry ‘n gebalanseerde dieet.”
Asof dit nie genoeg is nie, ontferm Lionel hom ook oor troppies bokke in PE. “Ek kry afval kool en verlepte beet- en wortelblare by my groentewinkel. Die bokke is baie erg daaroor.”
‘n Man met ‘n Hofmeyr-hart, dié Lionel Pike.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'