GRAAFF-REINET NUUS — Die Graaff-Reinet-skougronde - waar daar in die verlede talle feeste gehou is en tans verskeie veeveilings en kleinveeskoue plaasvind - loop aanhoudend onder diewe deur.
Die skougenootskap, wat die grond bestuur, meld dat hulle onlangs hul vyfde saak van diefstal by die polisie aanhangig gemaak het.
Dit is veral die sinkplate van die kleinvee-gedeelte wat deurloop.
Volgens 'n woordvoerder van die skougenootskap beloop die skade tot op hede meer as R100 000.
Die skougenootskap bied dus nou 'n groot beloning aan enige individu wat inligting aan hulle kan verskaf wat tot die inhegtenisname en skuldigbevinding van die oortreders sou lei.
'n Ander kwessie wat bekommer is die vadalisme wat by die gronde plaasvind. Die skougenootskap het verlede week gemerk dat die waterpype op die gronde beskadig is deurdat dit uit die grond geruk is - dit veroorsaak dat die skeerspanne van CMW nie water het vir hul behoeftes nie.
Die skougenootskap pleit met die publiek om na vore te kom sou hul enige ongerymdhede by die skougronde opmerk.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'