KAROO NUUS - Oor die afgelope paar dekades het die mediese wetenskap baie gesondheidsprobleme vir die mens opgelos. Een van hierdie ontdekkings is definitief insulien.
Die eerste insulien is in Januarie 1922 aan 'n 14-jarige seun in 'n hospitaal in Toronto toegedien. Sy gevaarlike hoë bloedsuikervlakke het binne 24 uur na toediening gedaal na 'n amper normale telling.
Voordat insulien op die rakke beskikbaar gestel is, was daar maar min wat dokters vir pasiënte met tipe 1 Diabetes kon doen.
In 1889 het twee Duitse navorsers, Oskar Minkowski en Joseph von Mering, uitgevind dat wanneer die pankreasklier van honde verwyder is, die diere simptome van diabetes ontwikkel het en kort daarna gesterf het. Hieruit het hulle afgelei dat insulien in die pankreas geproduseer word.
In 1921 het 'n jong chirurg genaamd Frederick Banting en sy assistent, Charles Best, 'n metode gevind om insulien uit die pankreas van 'n hond te verwyder. Kollegas het gesê die insulien lyk soos dik bruin slyk, maar min het hulle geweet dat dit hoop en lewe vir miljoene diabeteslyers sou bring.
Aanvanklik is diabete met insulien van dierlike oorsprong behandel. Vir baie jare is insulien van beeste en varke gebruik om diabetes te behandel en miljoene lewens is gered, maar dit was nie perfek nie, aangesien dit allergiese reaksies by baie pasiënte veroorsaak het. Die eerste geneties gemanipuleerde, sintetiese insulien wat nie allergiese reaksies ontlik het nie, is in 1978 vervaardig.
Volgens die MedicalNewsToday se webtuiste leef meer as 420 miljoen mense wêreldwyd tans met diabetes. Volgens die verslag maak ongeveer nege miljoen mense met tipe 1-diabetes wêreldwyd staat op insulien om te oorleef, en ongeveer 63-miljoen individue met tipe 2-diabetes benodig insulien vir behandeling.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’