GRAAFF-REINET NUUS - Die jaar 2021 sal vir Eugene Louw, 'n oudpredikant van Graaff-Reinet, uitstaan. Dis soos 'n vervolgverhaal wat in 1941 afgeskop het en hom steeds afspeel.
Drie geslagte van Eugene Louw's vertolk die hoofrolle in dié uitsonderlike verhaal.
Dominee Louw sê hy moes eenvoudig die buitengewone storie van 2021 met die lesers van Graaff-Reinet Advertiser deel.
Hy vertel: "Die jongste Eugene Louw is my kleinseun wat in April 2021 10 jaar oud geword het. My oudste kleinseun het in Augustus 2021 20 jaar oud geword en my jongste seun het in Augustus 2021 40 jaar oud geword. Ek self verjaar op Sondag 24 Oktober en sal dan 80 jaar oud word."
Ds. Louw was van 1971 tot 1976 predikant van die NG kerk Graaff-Reinet.
"Ons het dus besluit om dié eerskomende naweek van 22 tot 24 Oktober op Uitkoms, 'n gasteplaas van Kobus en Janie Theron, te kom kuier. Ons was goeie vriende met Arnoldus en Elize Theron tydens ons verblyf in Graaff-Reinet en Uitkoms hou vir ons pragtige herinneringe in.
Al twintig van ons sal Sondag die erediens in die Grootkerk bywoon en ek is deur dr. Van Tonder gevra om by die dankfeesgeleentheid iets met die gemeente te deel oor dankbaarheid.
"Dit was 'n besondere voorreg vir my om vir 'n deel van my bediening op Graaff-Reinet te wees, aangesien groot geeste soos Andrew Murray, Charles Murray en AF Louw, almal deel van my voorgeslag, ook in die gemeente as predikante gedien het. "Ons het op Graaff-Reinet 'n aangename vyf jaar van ons bediening beleef saam met ds. Lindenberg en, ná sy vertrek, met ds. Hannes Naude. ds. Willem du Toit van die Nuwe Kerk het ook 'n rol gespeel in ons aangename verblyf in Graaff-Reinet as ouer raadgewer wie se deur altyd oopgestaan het vir ons.
"Ons tweede kind, Jannie, is in 1972 op Graaff-Reinet gebore. Daarom sien ek uit daarna om daar saam met my eggenote en vier kinders en hulle wederhelftes asook 10 van my twaalf kleinkinders die geleentheid daar te vier."
Die jaar 2021 was vir die vier Eugene Louw's, wat oor drie geslagte strek, 'n buitengewone jaar. Van links: Eugene (20), Eugene (10), Eugene (40) en Eugene (80).
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'