ABERDEEN NUUS - Aberdeen se Botter Ossies het op Saterdag 19 Augustus, ná 'n lang stilte, weer hulle verskyning gemaak.
Hulle het ten bate van ‘n goeie doel die stofroete van Aberdeen aangedurf en in totaal 20 km in drie ure gestap.
Hierdie keer het hulle ten bate van 'n plaaslike inwoner, wat met ernstige gesondheidsuitdagings worstel, gestap.
Die vier Botter Ossies het in 2018 begin stap en het veral in 2019 plaaslik opslae gemaak met verskeie fondsinsamelings totdat hulle deur die Covid-19 gekniehalter is. Hulle het ondermeer gestap ten bate van Kamdeboo Primêr asook om ‘n vullisblik-projek in die dorp van stapel te stuur.
“Ons is vier vroue wat destyds besluit het om geld in te samel vir ‘n goeie doel deur iets buite ons gewone roetine te doen,” vertel Hannelie van der Westhuizen. Sy sê die naam Botter Ossies was vir hulle pittig en beskrywend, “As jy ons sien, sal jy verstaan.”
Met Saterdag se stap kon egter net twee van hulle, Umelda van Rensburg en Hannelie van der Westhuizen die spreekwoordelike wa deur die drif trek. Hulle is deur Karla Greyling, ‘n plaaslike dokter en ‘n kranige stapper en drawwer, asook Engela James, vrou van die plaaslike NGK-leraar, ds. Clifford James, ondersteun. Pietie van Rensburg het die agterhoede gedek en gesorg vir die nodige innerlike versterkings.
“Al was ons net twee van die vier Botter Ossies, het ons hierdie keer gestap met mediese en geestelike begeleiding,” skerts van Rensburg.
Die Botter Ossies is dankbaar dat hulle fondsinsameling die beoogde teiken oorskry het en bedank elkeen wat bygedra het. “Ons het reeds geïdentifiseer waarvoor ons volgende stap, ons maak nou reg vir volgende jaar!”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’