STEYTLERVILLE - Die dorp het Maandag 6 Maart die Daleview Primêr se 43ste verjaarsdag gevier. Die skool is op 6 Maart 1980 ingewy ná die saamsmelting van Rehoboth Primêr en UCC Primêr in 1979.
Skoolhoof Carl Julian Uithaler het gesê hulle herdenk dekades van goeie herinneringe. "Drie en veertig jaar se trots, prestasies en dankbaarheid, en 'n verdere belowende 43 jaar wat voorlê."
Hy noem dat hy self ook deel van die skool se ryk geskiedenis is. Sedert die samesmelting van die twee primêre skole en die gevolglike stigting van Daleview Primêr was hy by die skool betrokke - aanvanklik as laerskoolleerder, daarna as onderwyser, en nou as skoolhoof.
"Daleview vier vanjaar die suksesverhale van mense se moeitevolle arbeid, sowel as die tyd en geld wat hulle belê het, om 'n opvoedkundige instansie op te bou waar arbeid alles oorwin. Daarom wil ons op hierdie geleentheid hulde bring aan al die strydrosse - onderwysers, nie-doserende personeel, beheerraadslede, ouers en leerders - wat intussen heengegaan het."
Uithaler beklemtoon dat Daleview se sukses gegrond is in die skool se leuse: Arbeid oorwin alles. "Ons glo daarin dat harde arbeid en ononderbroke toegewydheid die sukses van ons leerders verseker."
Daleview streef daarna om leerders op sosiale-, sport-, en akademiese vlak te ontwikkel en te bemagtig. Die skool vier ook verskeie tale, kulture en tradisies onder een sambreel van diversiteit en eenheid.
"Terwyl ons die ryk geskiedenis van die skool vier, is ons ewe opgewonde oor die nuwe seisoen wat voorlê," sê Uithaler.
(Die skrywer van die berig se ma, Stephany Janse van Vuuren, was vir jare 'n onderwyseres by Daleview en later adjunkhoof en waarnemende hoof. Sy het afgetree nadat sy met kanker diagnoseer is en te siek was om verder skool te gee. Dit het Chriszanne diep geraak dat hulde gebring is aan onderwysers wat heengegaan het. Redakteur.)
'Ons bring jou die nuutste Steytlerville, Karoo nuus'