HOFMEYR NUUS - Die Cradock-tuinbouklub, onder voorsitterskap van Stephné Nortjé, het die afgelope week die 60 km na Hofmeyr afgelê vir ‘n dag in die platteland.
“Ons het besluit om na Hofmeyr te reis, want na die grendeltyd wil elkeen weer ‘n bietjie die mooi plekkies rondom Cradock sien. Ons sien uit daarna om deur die jaar na verskeie omliggende dorpe te reis en na besienswaardighede, padstalle en spoghotelle te gaan kyk,” het Nortjé gesê.
Die groep van twintig het heel eerste by die plaaslike koffiehuis, The Farmhouse, vergader en Marelize Michau het die bestuurder van Hofmeyr Hugs of Hope aan die woord gestel, waarna die dames vrae kon vra.
Daarna het die klub na Basie Stuurman se tuin in Twinsville op Hofmeyr gaan kyk. Hy is een van die tuiniers van die Hofmeyr Hugs of Hope-opleidingspan en bestuur verskeie tuine in die omgewing. Die dames het hom oorweldig met saailinge, blomplantjies en ook groente- en blomsaad.
As alles eers geplant is, beloof dit om 'n lus vir die oog te wees. Stuurman het die vroue vertel van sy ander stokperdjie - om items te herwin en as tuinversierings te gebruik.
Michau sê hulle middagete by die plaaslike Victoria Boetiekhotel, was die hoogtepunt van die dag. "Ons groep het na ‘n heerlike ete tot laatmiddag daar gekuier en almal het besluit dat dit absoluut die moeite werd was om die pad na Hofmeyr aan te pak."
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'