CRADOCK NUUS - As kind was Cradock-inwoner Sesethu Ntombela (23) waarskynlik óf in die dramaklas óf op die verhoog.
"Ek dink 'n mens is ma' gebore met sulke passie," vertel sy nou, as sepie-akteur, vir die Advertiser.
Inwoners van haar tuisdorp was in ekstase toe hulle laasweek 7de Laan aanskakel, en Ntombela as die Laan se nuwe diva en mode-kenner Khethiwe sien.
"Ek was verbaas oor hoe vinnig die nuus versprei het, maar ek waardeer die ondersteuning opreg," deel Ntombela.
"Cradock en sy mense beteken baie vir my. Van juffrou Elmar Heese en die tannies van Huis Joubert in die Voorbereiding skool, tot al die onderwysers en die tannies van Huis Rocklands in die Hoërskool. Ek is regtig bitter lief vir almal wat gehelp het om my te maak wie ek vandag is."
Ntombela sê dat sy die karakter van Khethiwe geniet, maar dat dit soms moeilik is om te vertolk.
"Ons persoonlikhede verskil baie, so sy trek my so bietjie uit my gemaksone uit. Maar dit is snaaks om te sien hoe die ander karakters reageer wanneer sy eers haar mond verby praat."
Sy was in Graad 10 aan Hoërskool Cradock toe drama-afrigter Melina Smit die belowende talent onder haar vlerk geneem het. "Ek het dit vreeslik geniet, en met haar gepraat oor die moontlikheid om eendag drama te gaan studeer." Nog voordat Ntombela die kampus van die Universiteit van Pretoria betree het, het sy in Graad 12 'n nasionale toneel kompetisie gewen en die klein rol van Mbali in Binnelanders losgeslaan.
Sy het ook 'n rol in haar eerste professionele teaterstuk gekry. "Dit was die bevestiging wat ek nodig gehad het."
Haar eerste keer in die Laan was tydens haar derde jaar op universiteit in 2017, toe sy gekies is vir 'n mense-handel storielyn. "Ek het myself belowe ek gaan eendag terug, maak nie saak wat nie."
Die vasberade akteur het nie lank gewag nie. Aan die einde van 2018 het sy gesien 7de Laan soek drie akteurs om rolle te vertolk. Sy het aansoek gedoen, 'n oudisie gekry, en eindelik die rol van Khethiwe losgeslaan. "Ek het in trane uitgebars van blydskap, ek was in skok."
Haar hoop vir die toekoms is om 'n sterk loopbaan as akteur te bou. "Ek sal ook graag radio-werk, TV-aanbieding en dalk 'n bietjie musiek wil doen. Oor 10 jaar wil ek ook opleiding in regie doen."
Ntombela het groot drome, en moedig jong mense van die Karoo aan om ook hul drome na te jaag. "Gaan studeer," is haar raad aan aspirante akteurs. Sy meen dat talent alleen nie genoeg is nie, en dat opleiding en tegniese agtergrond waardevol is.
"Dit is 'n moeilike bedryf want daar is altyd iemand reg om jou rol oor te neem, maar dit is die moeite werd.
"Bly nederig en respekteer almal om jou, want die bedryf is baie klein. Almal ken almal, veral agter die skerms."
Wanneer Ntombela nie doenig as akteur is nie skryf sy graag gedigte of kortverhale. Sy brei ook, besoek graag teaters en museums, sing, en is 'n groot krieket-aanhanger.
Sesethu Ntombela, of te wel mode-kenner Khethiwe, tydens haar eerste verskyning in 7de Laan.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'