CRADOCK NUUS - Die Cradock Animal Shelter (CAS) het die week tydelik gesluit omdat hulle nie meer met al die uitgawes kan byhou nie.
Volgens Karin Human, voorsitter van CAS, is hulle die enigste skut en is daar ongeveer 150 honde en katte.
CAS is in 2014 gestig en Human en haar komitee is sedert verlede jaar by CAS betrokke.
"Vrywilligers van GRAWSE, 'n liefdadigheidsorganisasie in Graaff-Reinet, het Dinsdag van ons honde en katte kom haal omdat ons nie meer almal kan huisves nie. Die onkostes om die skut per maand te onderhou is ongeveer R25 000. Kos vir die diere is veral 'n groot probleem. Ons kry nie 'n vaste bedrag per maand van die staat of munisipaliteit nie. Ons is 'n instansie wat 100% staatmaak op die vrygewigheid van diereliefhebbers daar buite."
Human het Maandag 'n plasing op Facebook gemaak om inwoners in te lig dat die skut tydelik gesluit gaan word.
"Dit was nie 'n ligte besluit wat ons geneem het nie, maar ons moet kyk na die diere wat ons reeds het. Die tydelike sluiting beteken dat ons nie tans diere in die gemeenskap kan help nie en ook nie nog diere kan inneem nie. Daar is nie geld of kos nie. Die geld wat oor is sal aan die diere wat tans by die skut is gaan en aan ons maandelikse uitgawes. Die volgende stap sal wees om diere uit te sit."
Volgens haar sal die situasie by die skut drasties moet verander of hulle sal permanent moet toemaak. "Ons spandeer ongeveer R1 000 'n maand aan elektrisiteit en R250 aan sekuriteit. Dan moet brandstof betaal word en twee salarisse van R6 000 'n maand. Die veearts-rekening is ongeveer R5 000 elke maand. Ons moet ook skoonmaakmiddels soos Jik en waspoeier koop om die beddens, komberse en hokke skoon te hou. Die medikasie en algemene onderhoud van die skut is nog nie hierby ingereken nie. Ons bly ook nie voor met kos nie."
Human sê mense se harte het wel na die plasing oopgegaan en het hulle kosskekings ontvang.
"Dit word ongelooflik baie waar-deer. Ons wil egter die gemeenskap vra om meer by die skut betrokke te wees. As mense nie wil geld gee nie, koop self die kos of kom help op 'n ander manier.
Geskenkbewyse vir kos en brand-stof is ook welkom. Mense kan ook bydraes tot die veeartsrekening maak," sê sy.
Enigiemand wat 'n hond of kat wil aanneem of 'n skenking wil maak kan CAS by 073 811 3663 kontak.
Die honde is tans beskikbaar vir aanneming by CAS:
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'