CRADOCK NUUS - Die diereskuiling in Cradock deel mee dat dit elke week beter gaan met Blue. Sy tel gewig op, haar vel word gesond en haargroei neem toe.
Sy is baie afhanklik van aandag en liefde, en is nog skrikkerig vir vreemde toenaderings en vreemde honde naby haar.
Maar sy raak nie kwaai nie, sy skram net weg.
Sy is steeds op 'n spesiale dieet en dr. Monica Muller besoek haar gereeld om te help met die nodige mediese sorg en medikasie.
"Daar is soveel liefde en seerkry in haar sagte oë," deel Karin Human van die diereskuiling mee.
Maar op 'n heel ander trant berig Joppie Opperman uit Cradock dat hul gesin se boerboelteef, Lola, sommer spog met vyf aanneembabas.
"Ons geregistreerde Airedale-teef, Roxy, het onlangs sewe kleintjies gehad. Almal opreg geteelde Airedale-hondjies. Maar dit was baie gou duidelik dat sy nie 'n goeie mamma is nie nadat twee van die werpsel kort na mekaar dood is. Ons het besluit dat ons boerboelteef, Lola, die versorging van die werpsel sal oorneem. Sy het, sonder enige behandeling, binne drie dae, genoeg melk gehad om die oorblywende vyf hondjies groot te maak. Roxy is geensins jaloers nie, eerder dankbaar. Sy bring net so nou en dan vir die kleintjies 'n stuk vel om aan te kou."
Vorige artikel: Blue voel eersdaags nie meer heeltemal blou nie
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'