CRADOCK NUUS - Die Congregational Church in Cradock vier vanjaar sy 200ste betaansjaar. Die eerste gemeente is in 1821 gestig as 'n buitestasie van Theopolis met die eerste leraar eerwaarde John Monro wat in 1839 ingeval het.
Eerwaarde Barry Robert Taylor volg hom op in 1848 en hy bedien die gemeente vir 28 jaar. Tydens eerw. Taylor se bediening word die kerkgebou in Hoogstraat opgerig.
"Die gemeente praat van die gebou as die 'ou kerk' omdat hulle as gevolg van die Groepsgebiedewet in 1977 verplig was om hul geliefde ou kerk te verlaat. Dienste is toe in Michausdal aangebied," vertel Sharon Hufkie, 'n gemeentelid van die Congregational Church.
Konsulent eerw. Drake het saam met die gemeente ook 'n kerkgebou in Michausdal opgerig wat in 1978 voltooi is en die betrokke gemeente in Michausdal is reeds 28 jaar oud.
"Hierdie sendingkerk is 'n presiese weergawe van die Harpenden Chapel in Engeland en is opgerig deur Robert Taylor, 'n sendeling vanaf die Londense Sendinggenootskap. Beide Robert Taylor, en sy eggenote, Marianne, het ernstige gesondheidsprobleme ontwikkel as gevolg van erge armoede, maar het steeds voltyds besig gebly met die bestuur van kerksake, sendingwerk en het ook onderwys gegee in die kerkgebou," het Darry Earl tydens 'n onderhoud in 2010 vertel.
Alle oorspronklike meubels, wat insluit die orrel, tafels, stoele, doopvont, nagmaalkelkies, historiese Bybels, registers en minstens veertig van die oorspronklike kerkbanke, het behoue gebly. Die Taylor-egpaar is in die ou kerkgebou onder die preekstoel begrawe.
Die ou kerkgebou is in 1982 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar en daar word goed na die gebou en tuin met palmbome omgesien.
Die Congregational Church het die afgelope week die 200ste bestaansjaar op luisterryke wyse gevier en daar word voortgebou op die groei van hierdie gemeente deur meer gelowiges vanuit Michausdal en Cradock na die gemeente te trek deur lewendige en aktiewe bediening.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'