GRAAFF-REINET NUUS - Die personeel van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) in Graaff-Reinet was aangenaam verras toe die plaaslike tak van Lewis Stores 'n baie welkome skenking by hul kantoor afgelewer het.
Die skenking sluit, onder andere, twee gasverwarmers in waarmee die personeel beslis die koue winter, wat alreeds begin byt het, sal kan afweer.
Die CMR is 'n gevestigde en gerespekteerde kinderbeskermingsorganisasie wat sedert 1977 maatskaplike- en welsynsdienste aan gesinne in nood lewer.
Die doel van CMR is om die gesinslewe te verryk en ten einde hierdie doel te bereik verleen hulle al vir meer as 40 jaar ondersteuning aan gebroke gesinne.
Yolande McCabe, takbestuurder van Lewis in Graaff-Reinet, het die skenking oorhandig. Die maatskaplike werker, Kayline Seis, en maatskaplike hulpwerker, Chantel Matthews, was aanvanklik heel uit die veld geslaan omdat hulle glad nie die skenking te wagte was nie, maar hulle het gou tot verhaal gekom en Lewis Stores opreg bedank vir die ruimhartigheid.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'