CRADOCK NUUS - Op 31 Januarie het drie jarelange staatmakerfasiliteerders van Cradock Hoërskool, die tuig neergelê.
Dirk Cronje het na 40 jaar in die onderwys, waarvan 38 en ‘n half jaar by Cradock Hoërskool was, afgetree.
Sy eggenote, Maureen Cronje, wat vanaf 2003 aan CHS verbonde was, het ook besluit om af te tree, en die herfsjare saam met haar wederhelfte te geniet.
Louise Geyer, algemeen bekend as Ma’am, het na 38 jaar by die skool haar bordkryt finaal neergelê. Sy was ook vir 40 jaar ‘n fasiliteerder.
Dirk Cronje was sedert 2002 Adjunk-hoof en vanaf 2019 Skoolhoof by Hoërskool Cradock. Deur die jare het hy besonder diep spore getrap op vele gebiede.
Hy was ‘n kranige krieket- en rugbyspeler met die vermoë om sy kennis oor te dra as afrigter. Sy groot liefde was egter krieket en hy het onnoembaar baie gedoen om CHS as krieketskool te vestig. Sy passie was om die skoolterrein optimaal te ontwikkel deur sportgronde te vestig. As klein gebaar van erkenning vir sy reuse taak, is die sportgronde by die skool dan in 2022 na hom vernoem.
Dirk Cronje het die land deurkruis as busbestuurder vir sporttoere, landsdienstoere, dramatoere en skaaktoernooie.
Hy was altyd ‘n totale opvoeder wat almal met syaanhalings verryk het. Klasgee was egter sy groot voorliefde: eers Houtwerk, toe TegnieseTekene en later Ingenieursgrafika enOntwerp.
Maureen Cronje was die verantwoordelike fasiliteerder vir Handelsvakke soos Rekeningkunde, Ekonomie en Besigheidstudies.
Haar liefde vir die natuur het sy uitgeleef in die vele Landsdiensprojekte en –toere wat sy met groot sukses aangepak het. Vele leerders kan getuig van die invloed wat hierdiegeleenthede op hul lewens gehad het.
Verder het sy die besondere gawe gehad om goedkoop, dog elegante funksies te kon optower. Sy was die brein agter menige suksesvolle skoolfunksies.
Louise Geyer is sedert haar aanstelling in 1984 geassosieer met Engels. Sy het talle leerders oor die jare bekendgestel aan onder andere die skoonheid van die Engelsetaal. Leerders onthou hoe sy met passie saam met hulle na films gekyk het oor voorgeskrewe werke, sodat elke leerder haar passie kon aanvoel, en die voorgeskrewe stories kon beleef.
Dit het tot gevolg gehad dat haar leerders ‘n groot liefde vir lees en boeke ontwikkel het, wat hul lewenslank ‘n wyer uitkyk oor die lewe gee. In latere jare het sy hoofsaaklik English Home Language doseer.
Hier het sy besondere resultate behaal deur Karookinders te leer hoe om dieper in die literatuur te kan delf.
Dissipline was vir haar besonder belangrik en sy het ook geglo dat persoonlike netheid outomaties lei tot dissipline.
Op die buitemuurse front het sy bykans alles gedoen behalwe om rugby en krieket af te rig of die gras te sny. Sy was eintlik ‘n kultuurmens wat hoofsaaklik by die skoolkoerant, drama en redenaarskompetisies betrokke was. Tog het sy egter sport afgerig as sy benodig was.
Ma’am was altyd die een met die sagte glimlag as leerders probleme gehad het.
Sy het baie vinnig vir die leerders ingetree, maar was baie streng met dié wat die reëls oortree het.
Menige leerder herroep Louise Geyer as die mode-ikoon van Cradock Hoërskool, en veral tienerdogters was baie be-indruk met haar uitrustings wat altyd so keurig saamgestel was.
Haar groot liefde was juweliersware en hoede, wat haar uitrustings altyd komplimenteer het.
Hoërskool Cradock sal al drie hierdie leerkragte beslis mis. Die woord “leerkragte” beskryf hulle baie goed, want hulle was beslis kragte in Hoërskool Cradock.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, karoo nuus'