TARKASTAD NUUS - Dit was aanvanklik net die rookwolk teen die horison wat my aandag getrek het, vertel Ronell Herselman van Tarkastad.
"Maar soos die tyd verloop het, het die rookwolk gegroei en later kon ek die vlamme sien wat deur die weiveld van ons buurman, Gary Phillips, se veld gewoed het.
"Daar was ook so twee weke gelede 'n veldbrand by Dave Osborne se plaas so 20 km buite Tarkastad, op pad Queenstown toe. Pieter de Wet het my toe gevra om hulp, want hy het ook grond daar en hy is van Sterkstroom af. Toe gaan ek met my personeel en rugsak (blower) en ons het die vuur geblus. Sowat 500 ha het gebrand," het Pieter Willemse Hattingh, 'n buurman uit die omgewing, om my navraag geantwoord.
“Verlede Woensdag het Garry Phillips van die plaas Drummond Park en Highland Rock my gebel en gevra vir hulp, want daar was 'n veldbrand by hulle wat op die Ciskei-kant ontstaan het. In daardie stadium was ek alleen en is ek op eie houtjie daarheen. Ek was eerste op die toneel met my rugsak en het die vuur begin blus totdat die ander boere opgedaag het om te help.
"Ek kon toe ook die vuur bergop blus waar die bakkies nie kon ry nie en het gehelp tot so ná 20:00 die aand. Ons was tot in die Ciskei waar ons uiteindelik die vuur met 'n voorbrand gewen het. Ongeveer 800 ha is vernietig; dalk selfs bietjie meer."
Beeste wat in die kampe was, is deur hekke gejaag sodat hul die vlamme kon vryspring. By nadere ondersoek het dit duidelik geword dat die brand reeds in die Ciskei gestig is om veld skoon te brand voordat dit na die buurplase in die Tarkastad-distrik versprei het.
"Selfs al sou dit nou reën, sal die gras eers weer in die warmer maande begin groei," sê Hattingh.
Brandbestryders kon gelukkig die beeste betyds uit die brandende kamp jaag.
Brande langs die R390, tussen Steynsburg en Molteno, het ook grootskaalse vernietiging van weiding tot gevolg gehad.
"Die veld wat verbrand is, word reeds vir jare wanbestuur en is oortrek met miershope. Ongelukkig bestaan daar dikwels die geloof dat veld wat gebrand word nuwe groen weiding sal voortbring, wat wel die geval is in die vroegsomer. Maar hierdie stukke veld sal nou braak lê totdat daar goeie reën val en die dae warm genoeg raak om groei te bewerkstellig," vertel 'n buurman wie se plaas grens aan die gronde in Molteno wat in die brand vernietig is.
'Ons bring jou die nuutste Tarkastad, Karoo nuus'