KAROO NUUS - Nadia Bosch, bekende tuinier en tuinkunstenaar van Hofmeyr, het op 28 Julie die Hofmeyr-tuinbouklub by haar tuiste op Echodale onthaal.
"Ek was só bevoorreg om my skoolvriendin van ouds, Sharne Hilton, by my op die plaas te hê terwyl ek voorberei vir die vergadering. Ons is al vriendinne van kleuterskooldae," sê Bosch.
Warm sop en tuisgebakte plaasbrood is bedien, en elkeen het 'n sementpotplanthouer, wat Bosch en Hilton self gemaak het, ontvang.
"Ek het mosaïekteëltjies, stukkies spieël en repies glas vooraf gereed gekry en 25 tuiniers vrye teuels gegee om elkeen hul eie plantbak te versier. Daar was regtig pragtige kunswerke," vertel Bosch.
Nadia Bosch was 'n puik gasvrou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’