GRAAFF-REINET NUUS - Die interskole kragmeting bied hierdie jaar, na 'n afwesigheid van twee jaar, weer 'n geleentheid aan ons leerders om op sport- en kulturele gebied, hul talente en vaardighede uit te leef.
Die belangrike bydrae van sport- en kulturele aktiwiteite in die holistiese opvoeding van die leerders en veral in die huidige opvoedingsopset, kan nie gering geskat word nie.
Dit is dus met groot afwagting en opge-wondenheid dat daar na hierdie interskole kragmeting uitgesien word wat jaarliks 'n hoogtepunt op die sportkalender is.
Ons sien uit daarna om ons sport-verbintenis met Spandau voort te sit, te verstewig en dat die twee skole nie net op sport- en kultuurgebied brûe sal bou nie, maar in alle sfere idees sal uitruil om ons leerders en gemeenskap te verryk.
Aan beide skole se deelnemers wil ek die volgende boodskap nalaat: Daar sal wedstryde en kompetisies gewen en verloor word, maar net jou beste sal goed genoeg wees. Geniet die opwinding wat hierdie geleentheid bied, want dit sal kosbare herinneringe inhou.
Nelson Mandela het die volgende gesê: "I never lose, I either win or learn."
Die gemeenskap van Graaff-Reinet word hartlik uitgenooi om ons skole te ondersteun.
Dit is my bede en wense dat alle verrigtinge heilsaamheid sal inhou, reëlings vlot sal verloop en dat ware sportmanskap sal seëvier.
SEMPER AD SUMMUM – ALWAYS TO THE TOP
JP Grootboom,
Skoolhoof
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'