KAROO NUUS - Tydens 'n raadsvergadering van Dr Beyers Naudé-munisipaliteit (DBNM) op 31 Januarie is die voorgestelde bonusse, waarop drie munisipale direkteure geregtig sou wees, eenparig deur die raad afgekeur. Die bonusse beloop glo R192 000.
Tydens die vergadering is daar navrae deur die raad gerig oor die ouditverslag en besluit dat bonusse net uitbetaal sal word indien daar 'n skoon oudit sonder enige navrae is.
Prestasiebestuur sal deur die burgemeester hanteer word na konsultasie met die uitvoerendekomitee en na onderhandelinge met munisipalebestuurder.
Die raad bly dus by uitstek die besluitnemers rondom die vereistes en verpligtinge van die munisipale bestuurder.
"Die geld wat op die voorgestelde bonusse spandeer sou word, kan beter aangewend word om dienslewering aan die gemeenskappe van DBNM te lewer en te verbeter.
"Dit gaan 'n enorme besparing vir die munisipaliteit beteken. Ons is 'n sukkelende munisipaliteit en op dié stadium kan geld nie so verkwis word nie," sê Adriaan van Heerden, raadslid van Aberdeen, distriksraadslid van Sarah Baartman munisipale raad en verteenwoordiger van die VF Plus.
Ewald Loock, voorsitter van die DA-koukus, sê dat die vergadering heel gemaklik en vriendelik verloop het. "Die Ouditeur Generaal (OG) het 'n verslag oor die finansiële state van die DBNM se oudit aan die raad voorgelê.
"Die OG het gesê dat hoewel die ouditverslag van die DBNM skoon is, daar ook verskeie bevindings gemaak is wat dringend aandag moet geniet."
Die verslag sal binnekort aan die publiek beskikbaar gestel word, waarna kommentaar ingewin moet word. Eers daarna sal die OG sy finale oorsig bekendmaak.
Hierna moet die verslag van DBNM beskikbaar wees, en sal MPAC (Municipal Public Accounts Committee) dit publiseer. Dié verslag moet teen 31 Maart afgehandel wees en teen 7 April by die MEC ingehandig wees.
Verskeie raadslede is gekontak om hulle gevoel oor die vergadering se uitkoms te hoor, maar wou nie kommentaar lewer nie.
Dié dokument is by die DBNM-kantore beskikbaar vir die publiek en word genooi om die inligting te besigtig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’