HOFMEYR NUUS - As daar nou een roete in die Hofmeyr-distrik is wat mateloos aanleiding gee tot frustrasie, is dit die R391-pad vanaf Molteno na Hofmeyr. Dit is 'n grondpadroete.
As gevolg van die rooiskaliegrond, wat suikerbrak vorm, val die pad gereeld gate in ná reënbuie. Die suikerbrak smelt eenvoudig in nattigheid en dan vorm die gate in die oppervlak van die pad.
Goeie gruiswerk en herstelwerk aan die roete sal hierdie probleem onder beheer kon bring, maar ongelukkig staan hierdie stuk grondpad altyd heel laaste op die lys van die padowerheid.
'n Boer uit die omgewing, Naas Vermaak, van die plaas Rietfontein, het die gevaarligte sien flikker toe hyself agterkom dat dit bykans 'n uur neem om slegs 20 km af te lê. Hy het toe self ingespring.
"Nie alleen gebruik ek en my vrou die roete nie, maar ek het ook twee seuns, met vroue en jong kinders, wat op gereelde basis die roete moet gebruik. Ons het ook 'n probleem met 'n vragmotor wat op gereelde basis vanaf Hofmeyr op die pad ry met vragte sand. Daar het reeds verskeie ongelukke op hierdie stuk pad gebeur," sê Naas.
"Ten einde 'n verdere tragedie en skade aan voertuie te voorkom, het ek met twee van my plaaswerkers besluit om alle gate toe te gooi en herstelwerk te doen binne my vermoë en met die beperkte masjinerie wat ek tot my beskikking het.
"Versoeke om hulp vanaf die padowerheid val op dowe ore, ongeag talle pogings deur die plaaslike boerevereniging. Vorige herstelwerk aan die roete is beloof, en slegs 6 km is herstel van die volle afstand van 47 km tot op die Molteno-grens.
"Aan die Molteno-kant is die pad in 'n baie beter toestand, want dit val onder 'n ander streekdiensteraad.”
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'