RICHMOND NUUS - Richmond se jaarlikse Boekbedonnerdfees vind vanjaar weer van 25 tot 28 Oktober plaas en beloof om iets te hê vir elkeen se smaak.
Die fees, wat nou al ’n instelling in dié dorp in die Bo-Karoo geraak het, se program is volgepak met gesprekke met gerekende Suid-Afrikaanse skrywers, sowel as nuwe skrywers in die Suid-Afrikaanse literêre sfeer.
Woensdag, 25 Oktober word in sy geheel gewy aan skywers wat hul werk self publiseer en die dag word afgesluit met ’n Onafhanklike Skrywersbanket, waar die prys vir die beste selfgepubliseerde boek ook toegeken word.
Van Donderdag tot Saterdag is die program vol heerlike gesprekke met verskeie skrywers, onder andere die digter-kunstenaar-musikant-akademikus, Andries Bezuidenhout, akademikus en skrywer, Ashwin Desai en Karina Szczurek, literêre kritikus, skrywer en wyle André P. Brink se laaste vrou.
Vir besoekers wat wil wegbreek van die literêre gesprekke is daar geleentheid om ’n rondleiding van die dorp se ryk agitekturele geskiedenis by te woon, sowel as ’n besoek aan gebiede van van historiese belang is en verband hou met die Anglo-Boereoorlog.
Die MAP-galery bied ’n kursus in boekbindery aan en die bekende digter, Fanie Olivier, bied ook ’n poësiekursus aan.
Die blues-kitaarspeler, Doc Maclean, bring Donderdagaand sy Steel Guitar Crossbones-toer na Richmond en daar is Vrydagmiddag ’n optrede deur Andries Bezuidenhout (ook bekend Roof van die Brixton Moord en Roof Orkes).
Die ou biblioteek in Loopstraat is Boekbedonnerd se hoofkwartier. Baie van die boekgesprekke vind hier plaas.
Die film, Vir die voëls, word Donderdagmiddag vertoon en Richmond se museum bied Vrydagaand ’n vertoning van Anglo-Boeroorlogfilms en voorlesings van ou Afrikaanse digters op langspeelplate aan, met versnaperings en wyn.
Saterdagmiddag stel Richmond sy gemeenskap ten toon met ’n draadkarretjieparade vir die plaaslike kinders.
Die Richmond Connelly Mile, ter nagedagtenis aan Darrel Connelly, een van Richmond se grotes, wat vroeër vanjaar oorlede is, bied aan atlete die geleentheid om mee te ding om ’n kontantprys – die resies strek van die een kant van Loopstraat tot die ander.
Daar is ’n kruiwaresies vir inwoners en besoekers en die plaaslike NG Kerk se basaar sal sorg dat knaende hongerpyne die laaste bekommernis is.
Vir ’n volledige program vir vanjaar se Boekbedonnerd, besoek die webblad by www.richmondnc.co.za, of die Boekbedonnerd Facebookblad.
'Ons bring jou die nuutste Richmond, Karoo nuus'