GRAAFF-REINET NUUS - Die Wanted Motorfietsklub het onlangs ’n projek geloods waar toiletware of kontant vir 'n plaaslike tehuis vir bejaardes ingesamel word.
Met hul 'Toilet Run' moedig die motorfietsers alle inwoners van Graaff-Reinet aan om 'n skenking van toiletware - hetsy groot of klein - voor Saterdag, 7 Julie, te skenk, wat dan aan die inwoners van Huis van de Graaff oorhandig sal word.
Alle toiletware moet liefs nie-geparfumeerde items wees.
Toiletware soos waslappe, seep, sjampoe, tandepasta, tandeborsels, anti-perspirante en lyfroom sal baie welkom wees.
Op Saterdag, 7 Julie, sal die lede van die motorfietsklub, asook nie-lede, by die Gem-vulstasie in Kerkstraat bymekaar kom om 10:00 vanwaar hul sal vertrek op 'n massarit deur die dorp en dan eindig by Huis van de Graaf in Stockenstroomstraat waar die toiletware dan aan die inwoners oorhandig sal word.
Na afloop van die oorhandiging en rit deur die dorp sal die motorfietsers by die Graaff-Reinet karavaanpark gesellig saam verkeer.
Diegene wat meer hieromtrent wil uitvind of 'n skenking wil maak, kan die klub se president Patrick Goltz skakel by 082 069 5255 of vise-president Neels Erasmus skakel by 072 399 1692.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'