MIDDELBURG NUUS - Na die leerders van Middeland Sekondêr vroeër die maand 'n protesoptog georganiseer het in verband met twee leerders wat verkrag was, het hulle 'n vergadering met die polisie versoek.
Die leerders het op 2 Mei onder toesig van Richard Jacobus, wyksraadslid van wyk 7, lede van die gemeenskap en buurtwaglede van Midros, 'n optog tot by die SAPD in Middelburg gehou.
Die hoofseun, Alex Alsander, en onderhoofseun, Beven Rademeyer, saam met die hoofdogter, Taylor Theron en onderhoofdogter, Lericiha Leonie, het die protesoptog teen geslagsgebaseerde geweld gereël. Hulle het gevoel dat die saak nie reg deur die polisie hanteer word nie.
Hulle het drie memorandums aan die waarnemende stasiekommissaris, kapt. Alridge Nel en Zuko Wellmen, administratiewe beampte van die departement van justisie oorhandig.
Die vergadering het op 11 Mei by die skool plaasgevind. Vier leerders van die leerderraad, raadslid Jacobus, kapt. Alridge Nel van Middelburg-polisie en kapt. P Mnyamyla van die familie-, kinder-, en seksuele misdryf-eenheid in Cradock het die vergadering bygewoon.
Mnyamyla het aan die leerders verduidelik dat die korrekte prosedure gevolg moet word, sodat 'n verdagte in hegtenis geneem kan word.
"'n Fisiese ondersoek van die slagoffer word gedoen deur die departement van gesondheid en word dan na die Kaapstad-laboratorium gestuur. Daar is 'n vertraging met ontleding van monsters wat by slagoffers geneem is. Sommige verkragtingsake kan tot en met vier jaar neem om af te handel," het hy verduidelik.
"Ons het 'n enorme tekort aan mannekrag, tussen Maart 2021 en Maart 2022 is daar 15 polisielede weg en geen nuwe aanstellings is gedoen nie. Die grootste uitdaging is om die hele gemeenskap van Middelburg te bedien. Middelburg- en Midros-gemeenskappe het buurtwagte gestig om veiligheid te bevorder," sê kapt. Alridge Nel.
Leerders van Middeland Sekondêr het besluit om 'n bewusmakingsveldtog te organiseer om verkragting stop te sit.
Leerders met plakkate het vroeër die maand protes aangeteken by die polisiestasie.
'Ons bring jou die nuutste Middelburg, Karoo nuus'