GRAAFF-REINET NUUS — Vir etlike jare het die Camdeboo Nasionale Park se bestuur 'n opdraande stryd teen rommelstrooiers in twee van Graaff-Reinet se ontspanningsgebiede, die Bergpad en Piekiekbos, gevoer.
Die Bergpad, of te wel Mountain Drive, is vir menige 'n plesier om te kan wandel vir ontspanning, 'n populêre oefeningsroete vir talle fietsryers en atlete, en 'n plek waar Graaff-Reinetters met hul honde in die natuur kan stap.
Alhoewel dit munisipale eiendom is en nie tegnies deel uitmaak van die park nie, het die munisipaliteit destyds ingestem dat die Park se bestuur verantwoordelikheid neem daaarvoor om sodoende vir die dorp 'n wandelroete so na as moontlik aan die natuur - verniet - te kon voorsien.
Piekniekbos, geleë op die oewer van die Nqwebadam langs die R63 na Murraysburg, is 'n soortgelyke ontspanningsarea wat die Park aan die inwoners van Graaff-Reinet voorsien het - teen geen onkoste aan die publiek - waar Graaff-Reinetters en besoekers kon piekniek hou, braai, hengel en net bloot die natuur kon geniet en waardeer.
As gevolg van die toenemende strooi van rommel in die gebiede, het die Park Forum - 'n komitee wat bestaan uit verteenwoordigers en belanghebbendes vanuit die gemeenskap (wat ook 'n verteenwoordiger van die munisipaliteit insluit) - aan die begin van 2017 besluit dat dié voorreg om die areas te gebruik die publiek ontneem moet word.
Nick de Goede, die vorige bestuurder van die Park, het daardie tyd gemeen dat dit geensins 'n stap was wat die Park wou neem nie, maar was hul genoodsaak om dit te doen siende dat sekere individue wat daarvan gebruik maak, nie genoeg respek vir die natuur, en diegene wat dit saam met hulle gebruik, toon nie.
Die Bergpad en Piekniekbos is toe gesluit (die Bergpad slegs vir voertuie, stappers en fietsryers het nogsteeds toegang).
Inwoner warm onder die kraag
Een inwoner van Graaff-Reinet, Willem Kemp, 'n natuurliefhebber en entoesiastiese hengelaar, is egter warm onder die kraag oor die sluiting van dié twee areas.
Volgens Kemp is dit die inwoners van Graaff-Reinet se reg om die gebiede te gebruik en te geniet en kan dit nie van Graaff-Reinetters ontneem word nie.
Kemp het dit sy missie gemaak om toe te sien dat die twee gebiede weer oop verklaar word.
Volgens Kemp, is daar in die oorspronklike ooreenkoms tussen die plaaslike munisipaliteit en die park insake die meentgronde, 'n klousule wat stipuleer dat die meentgronde toeganklik moet bly vir die publiek en is daar in geen raadsvergadering belê om dit te verander nie.
Daar is volgens Kemp, ook 'n kwessie van die R2 miljoen wat 'n klompie jare gelede gespandeer is om die Bergpad padvaardig vir voertuie te kry. Siende dat voertuie nie meer toegang tot die pad het nie, blyk dit vir Kemp dat dié geld verkwis is.
Kemp dring aan dat die munisipaliteit stappe neem om dit weer oop te stel aan die publiek en meen hy hy sal nie rus totdat dit gebeur nie.
Indien rommelstrooïng in die gebiede 'n probleem is, voel Kemp moet dit só bestuur word dat dit op 'n daaglikse basis aangespreek word. Maar kan natuurliefhebbendes nie gepenaliseer word vir ander wat rommelstrooi nie.
Die Advertiser het die munisipaliteit genader vir kommentaar in die verband, waarna die munisipaliteit te kenne gegee het dat hul die klagte tans ondersoek en so spoedig moontlik daarop sal reageer.
Wat is jou mening?
• Moet die areas weer oopgestel word vir die publiek? Lig jou mening deur kommentaar te lewer op ons webwerf of Facebookblad of 'n brief aan die redakteur te skryf - mariette@groupeditors.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'