GRAAFF-REINET NUUS - Advokaat Gerrie Nel, seker een van Suid-Afrika se bekendste aanklaers, lê tans besoek af aan Graaff-Reinet.
Nel word vergesel deur Freek Robinson - bekende joernalis, radio-omroeper en TV-aanbieder - en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van die die burgerregte organisasie Afriforum.
Nel sal vanaand, tydens ‘n geleentheid by die Botaniese Sportklub, voor ‘n gehoor deur Freek Robinson onder “kruisverhoor” geneem word.
Nel gaan dan ‘n spreekbeurt ontvang waarna Kriel by hom sal aansluit op die verhoog vir ‘n paneelgesprek.
Twee leerders van Hoër Volkskool se ATKV-jeugtak - die Volksmond - sal ook deelneem aan dié gesprek. Hulle is Justin Gafoor (voorsitter) en Jana Wagener (onder-voorsitter).
Nel se vervolging van die paralimpiese atleet Oscar Pistorius het aan hom wêreldwye publisiteit besorg.
Nel se bedanking van die Nasionale Vervolgingsgesag was egter ‘n skok - hy het hom intussen by die burgerregte organisasie Afriforum se anti-korrupsie eenheid aangesluit.
Alhoewel Nel vir Jan Publiek vasgenael gehou het voor die kassie met die uitgerekte Pistorius verhoor, was hy natuurlik ook betrokke met Jackie Selebi se vervolging.
Vanaand se geleentheid het ongeveer 270 Graaff-Reinetters gelok en beloof dit om ‘n baie insiggewende en genotvolle aand te wees.
Die paneel vir vanaand, 10 Augustus, se geleentheid by die Botaniese Sportklub, het mekaar vroeër vandag by die Drostdy Hotel ontmoet. Agter: Die voorsitter en onder-voorsitter van Hoër Volkskool se ATKV-jeugtak - die Volksmond, Justin Gafoor en Jana Wagener, saam met organiseerder en oud-Graaff-Reinetter Louwrens Selzer. Voor: Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, Advokaat Gerrie Nel en Freek Robinson.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'