TUINROETE | KAROO NUUS - Twee bekende sakemanne van Mosselbaai was Donderdag, 1 Desember saam na Willowmore op pad, toe hulle in 'n ongeluk betrokke was.
Peter Rein, eienaar van Piet se plek in Marshstraat, was saam met sy vriend Stan Fry in sy bakkie op pad om te gaan jag in die Willowmore omgewing.
Volgens Rein se dogter Bianca het 'n koedoe voor die bakkie ingehardloop. "My pa het beheer oor die bakkie verloor en van die pad af gery," het Bianca aan die Mossel Bay Advertiser vertel. Die ongeluk het net buite Willowmore op 'n grondpad op pad na die jagplaas plaasgevind.
"Toe Peter rem vir die bokke het die agterkant van die bakkie gegly en ons is van die pad af," vertel Fry. Fry het ligte beserings opgedoen en is ook na die hospitaal geneem vir behandeling maar is gou weer ontslaan. Volgens Fry het hy net sy skouer beseer en skrape opgedoen.
Volgens Bianca is haar pa ná die ongeluk na 'n hospitaal op Graaff-Reinet geneem en om 02:00 die oggend teruggeneem na Willowmore. "Hulle het net gesê hy het ribbes gebreek en hom so gelos," vertel Bianca. Sy skoonseun, Etiene de Koker het hom Vrydagoggend, 2 Desember in Willowmore gaan haal en na Mosselbaai gebring.
Lees meer in susterspublikasie, Mossel Bay Advertiser
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'