CRADOCK NUUS - Vlae hang halfmas in die Michausdal-gemeenskap by Cradock na die dood van Llewellyn Lawn, gisteroggend 26 Januarie.
Lawn was voor sy aftrede adjunkhoof by Michausdal Primêr en het ook vir ses jaar as skoolhoof sy gemeenskap gedien.
Talle leerders en oud-onderwysers het boodskappe van meegevoel op sosiale media gedeel.
Die Lawn-egpaar het in Oktober laas jaar in Pretoria by hul enigste kind, dr. Lestonn Lawn, gaan kuier, maar Lawn is kort daarna in Mediclinic Die Kloof opgeneem en na verskeie terugslae oorgeplaas na Netcare Unitas waar ‘n pasaangeër ingeplant is. Hy het egter steeds verswak.
Lawn word beskryf as nederig, saggeaard, sorgsaam en vrygewig. "Wyle Llewellyn Lawn was ‘n perfeksionis en ek het my beste jare as wiskunde fasiliteerder onder sy bekwame leiding by Michausdal Primêre skool deurgebring. Hy het as die sterkste leierfiguur in sy gemeenskap altyd die grootste respek afgedwing," deel Marietjie Opperman vanuit haar tuiste by die Erica Sorgsentrum in Cradock mee.
"Sy mede fasiliteerders het altyd gepoog om aan sy wense te voldoen terwyl sy leerders hom net graag gelukkig wou sien. Ons as oud-onderwyserspan se innige meegevoel gaan uit na sy Tannie Milly Butler, asook na Velma en hul seun Lestonn."
Die Emmanuel VGK kerk in Michausdal by Cradock se vlag hang halfmas na die dood van Llewellyn Lawn.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'