MIDDELBURG NUUS — Op Woensdag, 17 Januarie, het die bekende egpaar, John en Rethie Pollock, Middelburg verlaat.
Rethie meen egter dat hul net hul "bywortels en sywortels uittrek aangesien 'n penwortel - wat soos in John se geval 80 jaar Middelburg se water 'gedrink' het - nie uitgetrek kan word nie".
Die Pollocks is reeds 49 jaar getroud, waarvan hulle 47 jaar in hul huidige huis in Middelburg gewoon het. Gesamentlik was John en Rethie 71 jaar aan die Grootfontein Landboukollege verbonde - John 34 jaar en Rethie 37. Beide hul pa's het ook op Grootfontein gewerk.
"Ons is nie hartseer om Middelburg te verlaat nie, ons is té opgewonde oor die uitdaging om 'op ons oudag' weer in Serenitas, Bloemfontein te gaan huis opsit", meen Rethie.
Sy voer aan, "Ons gaan julle Middelburgers mis en na julle verlang. Ons sê totsiens en dankie vir jarelange hegte vriendskappe en plattelandse omgee vir mekaar. Mag dit met ons almal baie goed gaan. Ons weet dat ons Hemelse Vader, wat vir ons só goed was in Middelburg, saam met ons in Bloemfontein sal wees."
'Ons bring jou die nuutste Middelburg, Karoo nuus'