MOLTENO NUUS - Die bejaarde Martha Moses (81) van Molteno het verlede naweek in haar huis doodgebrand. Geen gemene spel word vermoed nie.
'n Plaaslike brandbeheerbeampte, wat op die toneel was, vertel dat dit gereeld elke winter in Molteno gebeur dat huise afbrand: "Veral wanneer dit koud raak, gebruik inwoners enige hout en vlambare materiaal om hul huise bietjie warmer te maak.
Ouma Martha was 'n besondere vrou wat Italiaans vlot kon praat nadat sy vir baie jare by 'n Italiaanse gesin in Johannesburg gebly en vir hulle gewerk het.
Sy het aktief ingeskakel by die Methodiste kerk in Molteno, waar sy ook aan die Damesgroep behoort en ook die weeklikse bybelstudiegeleenthede bygewoon het.
Christine Vermaak, wat ook betrokke is by die Methodiste kerk, sê ouma Martha het nooit teruggestaan as daar werk uitgedeel word nie.
"Sy was nog die afgelope maand betrokke by 'n opleidingsgeleentheid wat in die Methodiste kerksaal aangebied is en het vroeg elke oggend opgedaag om daar behulpsaam te wees. Haar gunstelinghondjie het saam met haar gestap en sy het ook met elke ete gesorg dat hy ook iets te ete kry.
“Sy het ook elke week die Huisgenoot gekoop en daagliks na die nuus op RSG geluister het. Niemand kon haar vasvra oor die daaglikse politieke gebeure nie en sy het graag grappender verwys na die agteruitgang in haar dorp en in haar land."
Dominee Nita de Wet van die Methodiste Kerk sê ouma Martha laat 'n groot leemte in die Methodistegemeenskap hier op Molteno.
'Ons bring jou die nuutste Molteno, Karoo nuus'