CRADOCK NUUS - ‘n Groot boom op ‘n plaaswerf naby Cradock het verlede week letterlik die booswigte se planne gedwarsboom toe die bestuurder in die boom vasgery en die bakkie beskadig het.
Niemand was tuis ten tye van die diefstal nie, want die Oppermans van Hazeldene was die aand van 16 Maart by ‘n 60ste verjaardagpartytjie en het ook daar oornag.
Voor hulle vertrek het Joppie Opperman egter sy plaasbakkie in die motorhuis getrek en die sleutel binne in die huis gehang.
Die aanvanklike reëling was dat hul dogter in hul huis sou slaap, maar sy het saam met haar broer en skoonsus na ‘n rugbywedstryd gegaan, en toe sommer by hulle oornag.
Ook maar ‘n goeie ding, want met Joppie se seun, Dewald, se besoek aan sy ouerhuis die volgende oggend, Vrydag 17 Maart, sien hy sy pa se bakkie is skoonveld en dat twee ruite van die huis gebreek is.
Dewald het dadelik ‘n noodroep uitgestuur oor die vermiste bakkie wat deur sekuriteitsfirmas gesirkuleer is.
Die jaarlikse Hofmeyr-landbouskou het Vrydag plaasgevind en talle boere is dorp toe. So het Jakkals Roux toe die bakkie in Eluxolweni, naby die kleuterskool, opgemerk en die plaaslike polisie in kennis gestel.
Getuies op die toneel het gesê dat die bakkie sedert 21:00 die vorige aand daar staan. Dit blyk dat die boewe noodgedwonge die beskadigde bakkie moes agterlaat.
Joppie het later bevestig dat die bakkie teen ‘n boom op hul plaaswerf gebots is, so die boewe het dalk boom gerook en toe rook die boom hulle!
Die saak word deur Cradock SAPD ondersoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’