Gallery
GRAAFF-REINET NUUS - Die pas afgelope naweek het #karoochallenge, wat tot dusver slegs veld-wedlope aangebied het, hul eerste (van wat hulle hoop nog vele sal wees) avontuur motorfietsrit aangebied.
Motorfietsers van Graaff-Reinet, naby geleë dorpe soos Cradock, Murraysburg, Middelburg en Port-Elizabeth en dan van so ver as Carnarvon, het hieraan deelgeneem.
Die groep avonturiers het vroegoggend op Saterdag, 10 November, vanaf Reinet Manor buite Graaff-Reinet vertrek en die Camdeboo gaan verken. Hier het hul toe 'n russtop gehad op die plaas Bothashoop waar hul die Mercedez Benz-versameling van eienaar Paul Merrifield bewonder het.
Van daar het hul met verskillende vlakke van haastigheid vetrek om die Kendrew-paaie te verken waar hul toe middagete by die Hotel Charles op Klipplaat geniet het.
Op pad terug het die deelnemers die dag se hitte langs die pad in 'n sementdam probeer ontsnap en die ergste stof probeer afwas, waarna die laaste gedeelte van die roete aangepak is. Die dag se avontuur is afgesluit met 'n gelukstrekking en die toekenning van die prys vir die persoon wat die roete die vinnigste voltooi het en nie een keer geval het nie. Hierdie prys is verower deur Willem Avenant van Murraysburg. Die trofee is geskenk deur Flashcor.
TyreMart Graaff-Reinet, dié geleentheid se hoofborg, het groot pryse vir die gelukstrekkings geskenk. Hierdie pryse is gewen deur Joe Kroon van Graaff-Reinet en Pierre-Martin Lombard van Cradock.
Die organiseerders bedank graag almal vir die ondersteuning wat die geleentheid geniet het, asook vir Tyremart Graaff-Reinet en Flashcor vir die borgskappe.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'