RUBRIEK - Ons weet mos almal van die 'change of lights' wanneer ons by die robot stilhou, en wag dat die rooi na groen verander, en soms is ons verras hoe vinnig die geel weer rooi raak en dan moet daar of blitsvinnig gestop, of blitsvinnig gery word.
Maar vandag praat ek nou nie oor robotte nie.
Ons oumas het gepraat van die oorgangsjare as 'The Change of Life,' maar dis g'n 'change of life' nie, dis ook g'n oorgang nie, en daai menopause is ook geen pouse nie, inteendeel, die lewe gebeur steeds volstoom, ongeag of jou liggies aan of af is, jy moet steeds byhou.
So van oumas gepraat. In die laat 1930's het dit gebruiklik geword dat alle vroue bo 40 slegs donker kleure mag dra. Kyk gerus op ou foto's. Al die mooie middeljarige vroue sit daar met swart, navy en donkerbruin gewade. Nou wonder ek, "hoeveel het hierdie morbiede kleure vir hulle arme gemoedere beteken, terwyl die oorgang dan nou hoeka op pad was om hul te tref." My oorle' ouma is dan in swart getroud met haar tweede eggenoot!
Ek glo baie van daardie anties was maar net te dankbaar vir die ruimskootse verligting wat die 'oorgang' gebring het. Ek glo na 13 of 16 babas was hulle so dankbaar dat daardie geboorte gebeurlikheid nou by 'tyd verstryk' gekom het.
Vanaf negejarige ouderdom kan 'n dogter immers begin reproduseer, met die gepaardgaande maandelikse belofte van vrugbaarheid. Sommige van ons voormoeders het weliswaar al voor dertien 'n baba gehad. Hierdie oermoeders was dus beslis baie dankbaar dat die einde van 'n era in sig was en hulle lewens het dan regtigwaar drasties verander. In swart het hulle die laaste jare tegemoetgegaan!
Dikwels hoor ek hoe vroue kla oor gloede. "Het jy gekla oor die heerlike warmte wat jou omring het toe jy jou geliefde vir die eerste keer gesien het op 16 of 26? Dis maar dieselfde hormone wat die effek veroorsaak."
Vroue wat die 'change of lights' deesdae beleef het vele hulpmiddels, en daar is nou nuwe woorde in hul woordeskat, nie net meer die drieletterwoord soos vry, of die vierletterwoord soos seks nie, hoewel dit steeds gedoen word. Maar daar is nou wonderlike woorde soos HVT wat eintlik beteken hormoonvervangingsterapie, wat jou verstand laat dink jy is nog jonk, al is jy nie rêrig nie.
My oorle' skoonmoeder het in groot wysheid altyd, tydens so 'n hittegloed gesê, "ai, bring tog weer die natlappie daar, my harmone is nou weer nie in harmonie nie." Na dié immerteenwoordige natlappie was haar gelaat en gemoed en haar 'harmone' weer terug na normaal. Deesdae is daar immers spuitkannetjies wat verkoel kan word, en 'wet wipes' om die hitte te verlig, en daar is ook talle 'natuurlike hulpmiddels om simptome te verlig.' Ek hoor selfs 'n eetlepel sojasous bring verligting.
Hoe jammer kry ek nie die manne in ons lewens, en die manne in ons wêreld nie. Hul kan nie die 'oorgangsjare' die skuld gee vir die uitsetting om hul middels of heupe nie. Hul kan ook glad nie 'n tekort aan estrogeen blameer vir vergeetagtigheid, of minder hare, beendigtheid en rumatiek of stewiger liggaamsdele wat mettertyd uitsak nie.
Maar ons as vroue is so geseënd, daar is deesdae pilletjies om te drink, pilletjies om te smeer en pilletjies vir orals. Daar is roompies en salfies, en inspuitgoed vir plooie, al vat dit jou hele lag weg. Daar is kleursels, geursels en stimulante, alles teen net 'n paar rande. Daar is grimering waarmee jy gaan slaap en kan wakker word, na 'n paar behandelings deur 'n gawe tatoeërgrimeerder en daar is anti-depressante wat jou gelukkig hou, as jy sou wou!
'Change of lights, change of life,' oorgang, of menopause is net woorde. Leef jou beste jare met al die hulpmiddels wat jy nodig het. Moet net nooit daai liggies dim nie!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’