KAROO NUUS - Die Graaff-Reinet Polisie het van 7 tot 13 Augustus hulle vangwaens vol gelaai met vermeende misdadigers.
Graaff-Reinet
Vir ernstige aanranding is ses verdagtes gearresteer, terwyl twee vir aanranding gewoon aangehou is.
Teenoor die vorige week se drie huisbraak-arrestasies, is daar volgens die laaste week se statistieke vyf verdagtes vir huisbraak in residensiële areas en vier vir besigheids-inbrake aangekeer.
Sewe mense is vir diefstal aangekla en twee vir winkeldiefstal.
Dwelms het sewe verdagtes in die hof laat beland.
Vier geweldenaars wat ander se eiendom beskadig het is vir opsetlike saakbeskadiging aangehou.
Drank en wanordelike gedrag het nege mense deur arrestasies tot orde geroep. Twee mense wat in die publiek gedrink het is ook selle toe geneem.
Aberdeen
Hier is een persoon vir aanranding gewoon en een vir dronkbestuur toegesluit.
Drank en wanordelike gedrag het agt mense in die langarm van die gereg laat vas loop.
Vonnisse
Winkeldiefstal: R 1 200 boete of drie maande gevangenisstraf.
Besit van mandrax: R 1500 boete of drie maande gevangenisstraf.
Huisbraak en diefstal: Ses maande gevangenisstraf, opgeskort vir twee jaar.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'