GRAAFF-REINET NUUS - Annelie Pieterse, Volkskool se top matriculant vir 2022, spog met vyf onderskeidings.
Die Advertiser het vanoggend met Annelie gesels na afloop van die uitslae se bekendmaking en Annelie beoog om na afloop van ‘n hermerk sewe onderskeidings in te palm.
Sy het reeds planne om vanjaar haar lyf veearts-assistent te hou en uiteindelik in 2024 haar studies voort te sit aan die Universiteit van Pretoria se Onderstepoort kampus waar sy veeartseny gaan studeer.
Sy wil haarself as wilds-veearts bekwaam. Sy het reeds by ‘n plaaslike veearts begin uithelp en hier haar hart op diere en die beroep verloor. Haar doelwit is om ook later ‘n diereskuiling op die been te bring en so ook haar passie uit te leef.
Geen prestasie kom natuurlik sonder sy struikelblokke nie en het Covid-19 in Annelie se gr.10 jaar baie uitdagings in terme van kommunikasie en effektiewe leer teweeg gebring, maar sy het eenvoudig kop gehou en vorentoe gekyk.
Die Advertiser het reeds berig oor Annelie se buitengewone prestasies op bykans elke gebied, maar hoogtepunte sluit in haar volgehoue akademiese prestasies, deelname aan boogskiet op provinsiale en nasionale vlak en is sy 'n uitnemende ambassadeur vir haar geliefde Hoër Volkskool.
Hierdie trots slaan duidelik deur in die emosie in haar stem wanneer sy die skool bedank vir hul volgehoue ondersteuning. Haar boodskap aan elke leerder wat hul doelwitte najaag is: “Bly positief en druk deur!”
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'