GRAAFF-REINET NUUS - Lede van die FAK Graaff-Reinet-kultuurnetwerk, FAK-personeellede en die hoofleerders van die Hoër Volkskool waar Anna Neethling-Pohl skoolgegaan het, het onlangs in die Cradockstraat-begraafplaas bymekaargekom om hulde te bring aan die doyenne van Afrikaanse teater met die 30-jaar herdenking van haar sterfdag.
Volgens FC Pelser, woordvoerder van die FAK Graaff-Reinet-kultuurnetwerk, was Anna Servasina Pohl, wat die verhoognaam Anna Neethling-Pohl gebruik het om verwarring met die sopraan Anna Elizabeth Pohl te voorkom, op 14 Augustus 1992 oorlede.
Haar laaste rusplek is op haar geboortedorp, Graaff-Reinet. Sy is saam met haar ouers begrawe.
"’n Klein steentjie met die woorde Mooi is die lewe en die dood is mooi van NP van Wyk Louw is die laaste herinnering van ’n formidabele vrou wat in haar lewe ’n groot impak gemaak het op die gebied van taal en kultuur. Hoe paslik dat iemand wat so ’n groot liefde vir Afrikaans gehad het, en ’n kampvegter daarvoor was, oorlede is op 14 Augustus, die datum waarop die Genootskap van Regte Afrikaners gestig is," het hy in 'n verklaring gesê.
Hy het verder gesê dat Neethling-Pohl haar loopbaan een as onderwyser begin het en was daarna die eerste vroulike Afrikaanse omroeper by die SAUK waar sy 21 jaar radiowerk gedoen en Afrikaanse programme vervaardig het. Sy was ook 'n professor in drama, regisseur, vertaler en skrywer.
Lees meer in Graaff-Reinet Advertiser en aanlyn
Van links is: Johan Dames (FAK-kultuurnetwerk), Marno Strauss (FAK Projek Beampte), Ruan Deysel en Cloe Stannard (Hoofseun en -Dogter van die Hoërvolkskool), Anna Maree Vorster (FAK-kultuurnetwerke), Tiaan van Zyl (onderwyser), Tersia en Johannes Haarhoff (FAK-kultuurnetwerk).
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Klein Karoo nuus'