KAROO NUUS - Inwoners van Rietbron kan glad nie saam met die res kla wanneer dit by die diens van hul ambulanspersoneel kom nie.
Suster Maria Rex vertel met groot lof van die puik diens wat die Rietbron-kliniek van die mediese nooddienste en ambulanspersoneel van Willowmore EMS ontvang.
"Dit is 'n riem onder die hart om te weet dat EMS altyd beskikbaar is om ons van hulp te wees. Rietbron se pasiënte is afhanklik van die kliniek en dan moet ernstige pasiënte na Willowmore-hospitaal vervoer word - 'n volle 65 km ver, waarvan 44 km grondpad is. Die roete is na die onlangse reën nie so maklik begaanbaar nie," vertel Rex.
Sy sê dat hierdie diens van kardinale belang is vir die klinieksusters en dat hulle ook baie vinnig reageer wanneer siek babas en selfdoodpogings deurgebel word.
Die ambulansdienste vervoer weer dieselfde pasiënte wat vroegoggend na die Middeland-hospitaal in Graaff Reinet geneem was, saans terug.
"Dikwels na donker, maar hulle bring die pasiënte telkemale veilig terug, al moes hulle dieselfde roete vyf keer op dieselfde dag ry," spog Rex oor dié puik diens. "Hoeveel klinieke kan met soveel lof oor hul ambulansdienste getuig?"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’